Volkies se terreinbestuurder, Maans Bester, is Dinsdag (2 Junie) op die ouderdom van 75 na ‘n siekbed oorlede.
Op sosiale media, uit die gemeenskap en anuit Volkies het daar baie boodskappe van omgee gekom. Baie herinneringe is ook gedeel.
Dit is duidelik dat Oom Maans, soos baie hom geken het, ‘n groot indruk gemaak het. Hy laat sy vrou Buks, dogter Elaine en seun Bushy agter. Die familie het ook groot dank vir al die boodskappe uitgespreek en sal later ‘n datum en besonderhede Oom Maans se diens bekend maak.

Hier is paar huldeblyke van Volkie onderwysers:
Elsabe de Klerk skryf:
Om in ‘n kuil saam met ‘n spul onderwysers te beland, is nie iets wat sommer enige man voor kans sien, maar oom Maans het. Hy het ons met ‘n sagte, dog ferm hand bestuur. Jy het baie goed geweet as jy jou hand oorspeel het en dan het jy hom weer druipstert, op die regte manier, kom vra om ‘n takie vir jou te verrig of jou met iets te help.
Oom Maans was ‘n dankbare mens. Hy het dit waardeer as jy raakgesien het wat hy doen. Die skool was vir hom ‘n veilige hawe en hy was ‘n trotse Volkie. Selfs in sy hospitaalbed het hy nie gehuiwer om sy Volkie T-hemp met trots te dra nie.
As ek terugdink aan hom, sal ek altyd sy blou oë onthou. In die laaste paar maande was hy baie siek en as jy daaroor met hom gesels het, het hy dit afgemaak asof dit niks was. So broos soos hy was, het hy nooit gekla nie. Sy treë het kleiner en stadiger geword, maar hy was getrou op sy pos… en nou het sy treë stil geword.
Welma Pieters skryf:
In Augustus verlede jaar, staan ek saam met Oom Maans, Volkies se terreinbestuurder, by ‘n oud-skolier se graf. Sy hart, net soos myne, was stukkend. Hy vertel my tussen die trane deur dat daar kinders is wat vir hom so spesiaal is, wat hom elke dag met die hand kom groet, wat grappe en stories met hom deel. Kinders wat hom help wanneer hy hard aan die werk is. En dat die seun wat ons daardie dag gegroet het, so ‘n kind was. Vanaand kan ek hierdie woorde omdraai en saam met my Volkie-gemeenskap vir Oom Maans só onthou: hy het altyd kom groet, hetsy op die stoepe of langs die sportveld. Hy het stories en staaltjies gedeel uit sy vol lewe. Hy het altyd gehelp. Selfs wanneer hy toe onder die werk was en die tyd min was, het hy ‘n plan gemaak en gesorg. My hande het hy ligter gemaak, soos talle ander s’n. Oom Maans, ons salueer jou vir die passie en ywer wat jou harde werk vir jou ‘n plesier gemaak het. Ons gaan jou glimlag en daar wees en ondersteuning mis. Maar jou menswees is wat ons die meeste gaan mis. Volkies het ‘n ysterman vandag verloor. Rus in vrede.




