Local newsNewsNews

Plaaslike talent blink uit op nasionale én internasionale verhoog

As deel van die prys sal die wenfoto nou deur die kunstenaar in ’n unieke, handgetekende kunswerk omskep word.

Potchefstroom se eie Kieriekies Potch het die afgelope paar weke rede om fees te vier nadat dié plaaslike visuele kunstenaar ’n nasionale kunskompetisie gewen het én terselfdertyd internasionale erkenning ontvang het.

Kieriekies Potch het onlangs die eerste plek in Marili’s Art se foto-tot-skets-kompetisie behaal.

Ná ’n streng beoordelingsproses waartydens honderde inskrywings beoordeel is, is ’n gelykopuitslag verklaar. Kieriekies Potch deel dus die eerste plek as mede-wenner met Chantelle Bothma Coertzen.

Volgens Marili’s Art is daar streng kriteria gebruik om die wenfoto te beoordeel, met spesifieke aandag aan die foto se artistieke waarde en die balans tussen swart en wit. Hierdie elemente is belangrik vir die suksesvolle omskakeling van ’n foto na ’n potloodskets.

As deel van die prys sal die wenfoto nou deur die kunstenaar in ’n unieke, handgetekende kunswerk omskep word.

Die nasionale prestasie kom kort nadat Kieriekies Potch ook internasionale erkenning ontvang het.

ENVYD Magazine het aangekondig dat Kieriekies Potch gekies is om in die publikasie se eksklusiewe “August Emotions”-uitgawe te verskyn.

Die spesiale uitgawe fokus op hoë-mode-fotografie wat sterk en rou menslike emosies vasvang. Die foto wat die internasionale publikasie se aandag getrek het, word gekenmerk deur ’n sterk spel tussen lig en skadu, asook ’n intense blik wat die kyker se aandag onmiddellik trek.

Die dubbele prestasie is ’n belangrike mylpaal vir Kieriekies Potch en wys op die vlak van kreatiewe talent wat vanuit Potchefstroom na vore tree.

Vir ’n plaaslike kunstenaar om binne so ’n kort tydperk erkenning op beide nasionale en internasionale vlak te ontvang, is ’n besonderse prestasie.

Kieriekies Potch se sukses bied terselfdertyd ’n blik op wat moontlik is wanneer plaaslike kreatiwiteit, talent en harde werk die geleentheid kry om buite die grense van die gemeenskap gesien te word.

Die wenfoto.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button