Flip a Coin lewer nostalgiese vertoning
Kerk Straat, Roux, Perspektief en Veervol het ook vir kwaliteit musiek gesorg.
Twintig jaar gelede het Potch se bekende a cappella-groep, Flip a Coin, hul eerste vertoning gehou.
In 2026 op Dinsdag, 29 September was hulle weer op Momentum Aardklop se hoofverhoog vir ’n spesiale vertoning.
Dit was ’n nostalgietoer vir talle Potchefstromers wat weer dié bekende gesigte – sommige met baarde en ’n paar ekstra grys hare – kon sien.
Soos gewoonlik het hulle die dak gelig met hul eie treffers en unieke verwerkings – ’n mens sou dink dat hulle nooit as ’n groep opgehou het nie. Vir hierdie vyf talentvolle sangers en musikante is dit omtrent soos fietsry.
Met hul eie treffers en verwerkings, insluitend ’n Michael Jackson-medley, Green Day se Holiday en The Killers se All These Things That I’ve Done, was hulle op hul stukke. Flip a Coin bestaande uit Katlego Maboe, Michael de Villiers, Stefan Pretorius, Niekie van der Walt, en Johan C. Venter, was met luide applous ontvang.
Hulle het ook saam met Die Piesangskille, Gian Groen se Vier Seisoene Kind gesing.
Ander kunstenaars op die eerste dag se verhoog was onder meer Roux (Roux Cloete), asook Kerk Straat, Veervol en Perspektief. Roux, wat bekendheid as liedjieskrywer vir top kunstenaars verkry het, stel ook hierdie week sy nuutste enkelsnit, Zippo, vry. Hy het hierdie lied en met ander bekende liedjies die gehoor vermaak.








Kerk Straat was vol energie en het die gehoor laat kopskud met hul rock-klanke.
Hul nuutste enkelsnit, Engel, ’n vertolking van Karen Zoid se bekende lied, is goed ontvang. So ook hul eie liedjies MK Dae en Val.
Die feesterrein is vandag weer vanaf 09:00 oop, met vertonings wat vanaf 14:45 plaasvind. Glaskas tree om 21:00 op.
Daar was gisteraand teleurstelling toe Die Piesangskille nie kon optree nie weens die swaar weer, wat ’n veiligheidsrisiko ingehou het.



