Sandra Prinsloo ontvang eredoktorsgraad van NWU
Sandra Prinsloo is bekend as ’n groot ondersteuner van die uitvoerende kunste en is reeds al vir jare by Momentum Aardklop in talle bekroonde produksies te sien.
Die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise en regisseur, Sandra Prinsloo, is op Dinsdag, 29 September, met ’n eredoktorsgraad by die Noordwes-Universiteit (NWU) vereer.
Die Noordwes-Universiteit (NWU) het hierdie eredoktorsgraad, Philosophiae Doctor (Honoris Causa) in Visuele en Uitvoerende Kunste, aan Prinsloo toegeken tydens ’n spesiale geleentheid op die Potchefstroomkampus.

Prinsloo is tans in Potchefstroom, waar sy haar solostuk “Die Ander Dogter” by Momentum Aardklop opvoer. Prinsloo is bekend as ’n groot ondersteuner van die uitvoerende kunste en is reeds al vir jare by Aardklop in talle bekroonde produksies te sien.
Prinsloo was dankbaar vir hierdie toekenning en het dit met groot nederigheid ontvang.
Die eerbewys erken haar loopbaan wat oor meer as vyf dekades strek en waarin Prinsloo aan meer as 120 teater-, film- en televisieproduksies deel gehad het. Op die verhoog het sy in produksies soos Kamp Hoer, Die Naaimasjien en Jani gespeel. Op televisie was sy bekend vir haar rolle in die sepie Egoli en die dramas Konings en Die Mannheim-Sage. Rolprente waarin sy rolle vertolk het, sluit onder andere The Gods Must Be Crazy, Twee Grade van Moord, ’n Man soos my Pa en ’n Paw-Paw vir My Darling in.
Haar loopbaan word gekenmerk deur artistieke uitnemendheid, veelsydigheid en ’n bereidwilligheid om komplekse sosiale kwessies aan te pak.

Prof. Bismark Tyobeka, visekanselier van die NWU, het gesê Prinsloo se nalatenskap strek veel verder as die verhoog.
“Dr. Prinsloo se bydrae herinner ons daaraan dat kuns meer is as wat op ’n verhoog gebeur. Dit kan ons beweeg, ons uitdaag, ons nader aan mekaar bring en ons die moed gee om iets beters te verbeel,” het hy gesê.
Volgens Tyobeka het Prinsloo deur haar werk verskeie geslagte gehelp om gedeelde menslikheid vanuit nuwe perspektiewe te sien.


Hy het ook die rol van toekomstige kunstenaars beklemtoon wat die fakkel sal oorneem, nuwe stories sal vertel en die grense van die uitvoerende kunste verder sal verskuif.
“Dr. Prinsloo se nalatenskap lê nie net in die rolle wat sy vertolk het nie, maar ook in die lewens, stories en moontlikhede wat sy geïnspireer het,” het Tyobeka gesê.



