NewsNews

Sesjarige byna dood toe sy in koma verval

Eers nadat Megan Hendrikse (6) in 'n koma verval, het haar ouers uitgevind dat sy tipe-1 diabetes het.

Megan Hendrikse (6) het Saterdag, 13 Junie die tandarts vir ‘n normale tandtrek prosedure besoek. Sy het daarna olik en naar gevoel.

Haar ouers het haar na die weermag se siekeboeg geneem waar sy suurstof en medikasie teen naarheid ontvang het.

Hulle het gedink die pilletjie wat sy by die tandarts gekry het, was dalk die oorsaak dat sy naar was en sleg gevoel het en dat sy dalk daarvoor allergies is.

Die gesin is daarna huis toe, maar toe Megan se simptome nie wou opklaar nie, het haar ouers haar die middag weer dokter toe geneem, waar sy op ‘n drup gesit is en weer suurstof ontvang het. Haar ouers het haar daarna weer huis toe geneem en sy het die aand gaan slaap.

Toe hulle haar die Sondagoggend wou wakker maak, het sy nie wakker geword nie. Megan se ouers het groot geskrik toe hulle haar so leweloos sien lê het en haar ma, Anne Marie, onthou nog hoe koud haar lyfie was. “Ek het byna mal geword van bekommernis,” sê sy.

Hulle het dadelik weer met haar na die weermag se siekeboeg gejaag, waar die dokter bevestig het dat sy  in ‘n koma is. ‘n Ambulans van Potchefstroom Hospitaal het haar dadelik kom haal, waarna sy in die ongevalle-afdeling opgeneem is. Megan is daarna na die intensiewe-sorgeenheid van die hospitaal oorgeplaas en sy het eers die volgende Dinsdag, 23 Junie uit die koma ontwaak.

Anne Marie is baie dankbaar teenoor die mediese personeel van Potchefstroom Hospitaal wat so vinnig opgetree het en hulle bygestaan het deur hulle stresvolle tyd.

“Die mediese personeel was absoluut professioneel en het ons voortdurend op hoogte van Megan se toestand gehou. Ek en my man wil graag die personeel van die ongevalle-afdeling, die intensiewe sorgeenheid en Saal-11 bedank vir hulle sorg en bystand,” sê sy.

Mediese personeel het later bevestig dat Megan tipe-1 diabetes het. Sy is nou verplig om vier keer per dag insulien-inspuitings te kry sodat haar bloedsuikervlak konstant kan bly. Haar ma sê sy is weer springlewendig en het al selfs aan die inspuitings gewoond geraak.

  • Tipe-1 diabetes is ‘n kondisie wat gewoonlik by jong kinders of jongmense onder die ouderdom van 20 gediagnoseer word. Met tipe-1 diabetes vernietig ‘n persoon se immuunsisteem die beta-selle wat insulien in jou pankreas vervaardig. Insulien is ‘n hormoon wat help om suiker/glukose na jou liggaamselle te vervoer sodat dit as brandstof gebruik kan word. Wanneer jou pankreas nie meer insulien vervaardig nie, word die proses omver gewerp en kan glukose nie meer in jou selle opgeneem word nie. Die glukose bou op in jou bloed en jou selle word nie gevoed nie. Die simptome van hoë bloedsuiker is ekstreme dors en honger, droë mond, naarheid, swaar asemhaling, moegheid, versteurde visie, gereelde urinering en ‘n omgekrapte maag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button