Koos Kitaar het gegroet. Hy het sy snaarinstrument gevat en hierdie wêreld verlaat, nie oor Covid nie, maar die groot K wat hom vir die afgelope ruk van binnekant af seergemaak het.
Koos was dalk nie alombekend in Potchefstroom nie. Hy was nie ‘n “celeb”, of ‘n raadslid, of ‘n proffie of ‘n dominee nie, of iemand wat nie dalk eers ‘n plekkie in die Herald sou kry nie. Hy was net Koos..…van jong dae af ‘n voorslag-baanmeester op die Spoorweë…en hy was my buurman vir 23 jaar. Die oor-die-muur soort buurman, wat vir my staaltjies van treine, treinspore en stasies vertel het wat my aan sy lippe laat hang het….dit was Koos Kitaar.
Hoekom Koos Kitaar? As hy alleen wou wees, het Koos sy sessnaar Gibson (en partykeer ook die banjo) gevat en agter-in sy jaart op ‘n tuinstoel gaan sit (met so af en toe dalk ‘n ou knertsie of iets byderhand) en dan het die klanke en sang van Chris Blignaut, Elvis en lateraan die Bee Gees oor ons muur gespoel…dan weet jy Koos is nou sielsgelukkig!

Jacobus Egnatius Joubert is die aand van 12 Julie aan pankreaskanker in die Mediclici-hospitaal oorlede met sy vrou Zelda, seun Cobus, skoondogter Eldori en kleindogter Anzel aan sy sy. Waar was Spyker? het Koos dalk gewonder so in sy laaste ure van intense pyn. Spyker, of te wel Riaan, Koos en Zelda se jongste seun, het 17 jaar gelede met ‘n motorfiets verongeluk. Vir die Jouberts was dit asof die Here hulself kom haal het…hulle was vir jare stukkende mense wat ‘n Augustusmaand beswaarlik kon oorleef het.
Die Jouberts het in 1980 in hul huis in Beukeslaan ingetrek en bly vandag nog daar. Die geluk vir Zelda is dat seun Cobus en sy gesin darem na haar sal omsien omdat hulle by haar woonagtig is.
In die agterjaart het Koos met duiwe (veral “tumblers”), hoenders, konyne, tamaties, boontjes, kool en wat nog meer geboer. Daar was ook ‘n groot vyeboom agter in sy jaart wat se takke so half-en-half na ons kant toe geleun het en het ek Desembers elkers so ‘n vy of wat by Koos “geleen”.
Hy is in Johannesburg gebore, het in Alberton skoolgegaan en in 1977 na Potchefstroom verhuis. Hier het hy vir Zelda ontmoet en hulle is in 1978 getroud. Twee seuns, Cobus en Riaan, is uit die huwelik gebore. Riaan is intussen oorlede.
Sy grafdiens is op Vrydag 17 Julie deur pastoor Hannes Crouse gehou.
Hy was vir baie net Koos, vir ander Koos Kitaar, vir sy gesin pa, maar vir my ‘n unieke karakter wat ek in



