Moordenaar van kleuter lewenslank gevonnis
Daniel Minta, die Ghanees wat daarvan aangekla was dat hy ‘n vyfjarige seuntjie, Lovemore Ncube, vermoor het deur stopsels van ‘n kussing in sy keel af te druk, is Woensdagoggend (22 Julie) in die rondgaande hof in Klerksdorp tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Daniel Minta, die Ghanees wat daarvan aangekla was dat hy ‘n vyfjarige seuntjie, Lovemore Ncube, vermoor het deur stopsels van ‘n kussing in sy keel af te druk, is Woensdagoggend (22 Julie) in die rondgaande hof in Klerksdorp tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Minta is ook van verkragting aangekla, omdat Lovemore se onderlyfie kaal was toe hy gevind is. Regter André Petersen het hom egter van die verkragting onskuldig bevind, omdat dr. Ruweida Moorad, die staatspatoloog, nie kon bevestig dat Lovemore verkrag is nie.
Regter Petersen het in sy uitspraak gesê die manier hoe Ncube gesterf het, was wreed en dat Minta ‘n swaar straf verdien. Petersen het verder gesê die staat wil van Minta ‘n voorbeeld maak dat geweld teen vroue en kinders nie geduld kan word nie.
Die speurder wat die saak ondersoek het, ao. Bonita Dry, was oorweldig van vreugde nadat geregtigheid geskied het. “Dit was ‘n moeilike en spanningsvolle hofsaak. Ek voel die een oomblik ek wil huil en die volgende oomblik ek wil lag van vreugde. Ek het nie woorde nie. Die Here het die pad saam met ons gestap,” sê sy.
Die moord het op 3 Oktober 2018 by die Indiërsentrum (winkel 7) plaasgevind waar Minta in ‘n stoorkamer gebly het. Lovemore het saam met die res van sy gesin ook elders by die Indiërsentrum gebly.
Minta het Lovemore se lykie in die basis van sy bed versteek en ‘n voormalige vriend, Themba Skosana, het sy lyk ontdek nadat hy vir sy foon onder Minta se matras gesoek het.
Skosana het vroeër getuig hy het groot geskrik toe hy op Lovemore se lyk afkom. Minta het hom probeer keer om nie die matras op te lig nie en het geskree: “Stop Themba! Stop Themba!” Skosana het, na hy die lyk ontdek het, uit die kamer gehardloop en Minta in die kamer toegesluit. Minta het egter ‘n staaldeur oopgebreek en ontsnap, maar is die volgende dag op straat in hegtenis geneem.




