Plaaslike student kritiek na ongeluk in Parys
‘n Student van The Hair Academy in Potchefstroom is gisteroggend (12 Oktober) omstreeks 08:00 baie ernstig in ‘n motorongeluk in Parys beseer. Marné Prinsloo is eers per ambulans, en toe met ‘n noodhelikopter na die Netcare Milpark-hospitaal se trauma-eenheid in Johannesburg vervoer met onder meer ernstige kopbeserings, bloeding op die brein en skade aan haar …
‘n Student van The Hair Academy in Potchefstroom is gisteroggend (12 Oktober) omstreeks 08:00 baie ernstig in ‘n motorongeluk in Parys beseer.
Marné Prinsloo is eers per ambulans, en toe met ‘n noodhelikopter na die Netcare Milpark-hospitaal se trauma-eenheid in Johannesburg vervoer met onder meer ernstige kopbeserings, bloeding op die brein en skade aan haar rugwerwels. Sy sal tot Vrydag onder sedasie gehou word.
Parys Gazette berig dat inwoners in die omgewing waar die botsing gebeur het, sê hierdie is die soveelste ernstige ongeluk by die kruising waar een van die stoptekens al vir langer as ses jaar in sy afwesigheid skitter.

Danie Steenkamp wat gereeld in die omgewing stap, het aan die Gazette, die Herald se susterskoerant, gesê dat hy kwalik ‘n maand gelede die gevaar van die kruising onder die munisipaliteit se aandag gebring het. Een van sy bure was ongeveer twee maande gelede ook by dié kruising in ‘n botsing betrokke, en was hyself ooggetuie van ‘n noodvoertuig wat hier rakelings ‘n voertuig by die kruising gemis het. Die Gazette het ‘n maand gelede berig oor die toestand van padtekens in Parys, waarvan sommige nie meer leesbaar is nie, toegegroei of totaal afwesig. AfriForum Parys het wel al verskeie padtekens op hul koste vervang, maar is dit nog net ‘n druppel in die emmer met padmerke wat naas die padtekens ook dringende aandag kort.




