Lekkende waterpype voorspel groot probleme
‘n Gerekende argitek van Potchefstroom, Nardus Conradie, het die Herald genader om inwoners van lekkende waterpype in munisipale areas bewus te maak. Dié waterlekke is duidelik sigbaar en sypel gewoonlik uit by ‘n gat wat in ‘n pad gevorm het. Lekkende waterpype kom ook op sypaadjies voor.
‘n Gerekende argitek van Potchefstroom, Nardus Conradie, het die Herald genader om inwoners van lekkende waterpype in munisipale areas bewus te maak. Dié waterlekke is duidelik sigbaar en sypel gewoonlik uit by ‘n gat wat in ‘n pad gevorm het. Lekkende waterpype kom ook op sypaadjies voor.
Conradie wat al vir 50 jaar in Potchefstroom praktiseer en al baie geboue op die kampus en by die munisipaliteit ontwerp het, het twee groot lekkasies aan die Herald uitgewys. Een daarvan is in die Wandellaan waar water al ‘n geruime tyd onder die plaveisel lek en opdam.
Die ander groot lekkasie is in die pad en op die sypaadjie regoor die woonstelkompleks Pine Square (Thabo Mbekistraat 97) op die Bult. Hier is daar twee lekkasies – onder die pad en aan die oorkant van die pad waar die water al ‘n moeras op die sypaadjie gevorm het. Dié lekkasie is al só sterk dat water meer as 50 meter in die pad tot by die President Pretoriusmuseum afloop.

Volgens Conradie is dit ‘n groot oorsaak van die waterdruk wat afneem, maar hy is meer bekommerd oor die groot hoeveelheid skoon water wat so vermors word. Hy voorspel dat Potchefstroom binnekort ‘n watertekort gaan hê indien daar nie gou opgetree word nie. “In die Heilige Akker woongebied is daar selfs vyf waterlekke wat voorkom,” sê hy.
“Dit is regtig hartseer om die stad so te sien agteruitgaan. Die grootste probleem is dat die Infrastruktuur-afdeling van die munisipaliteit nie toeganklik is vir inwoners om klagtes te lê nie,” sê Conradie. Hyself moes al vir etlike minute aanhou om na die regte uitbreiding deurgeskakel te word. “Ek kom net nie deur na die regte mense nie.”
’n Inwoner van Rissikstraat in Kanonnierspark kla dat water al vir maande by ‘n pyp onder die pad lek. “Munisipale werkers het al in die verlede daaraan gewerk, maar dit word nie behoorlik herstel nie, want dit het daarna net weer by die gat uitgevloei,” sê sy.
Volgens die eienaars van die woonstelkompleks, Pine Square, het munisipale werkers die waterlek in Thabo Mbekistraat ‘n maand gelede herstel, maar dit het gou weer begin lek.
Volgens Nardus is lekkende pype gewoonlik staalpype wat roes. Daar is ook bakterieë wat gate in die pype vreet en dan moet dit herstel of vervang word.
“Onderhoud aan waterpype is baie belangrik. Inwoners moet ‘n opname van al die lekkende pype maak en dit aan die munisipaliteit voorlê,” sê hy.
Die munisipale nommer waar lekkende pype op munisipale terrein gerapporteer kan word, is gedurende weeksdae (018) 299 5408. Maak ‘n aantekening van die persoon by wie jy die waterlek rapporteer, asook die datum en tyd wanneer jy dit gedoen het om dit later weer op te volg. Na-ure en oor naweke kan die rampsentrum by 018 299 5822 gekontak word.
Die JB Marks Verbruikers en Belastingbetalersvereniging het reeds begin om lekkende pype in die Suiddorp te identifiseer. Volgens Friedemann Essrich, bestuurslid van dié vereniging, is daar reeds 18 klein en 11 groot lekke wat aangeteken is. “Vier van die groot lekke is in Paulstraat,” het Essrich gesê. Daar sal ‘n opname in die res van die stad ook gedoen word. Die vereniging beoog om die opname aan die munisipaliteit te oorhandig. William Maphosa, munisipale woordvoerder, het benadruk dat die munisipaliteit saam met inwoners wil werk om dienslewering te verbeter. “Die direkteur van infrastruktuur sal met die vereniging vergader as hulle hom deur sy kantoor nader,” het Maphosa gesê.




