Puttoiletmoordenaar in aanhouding
Die vermeende moordenaar wat 'n vrou van die informele nedersetting, Scotland, op Coligny vermoor het en haar liggaam in 'n puttoilet gegooi het, is tot sy volgende hofverskyning in aanhouding.

Thebolo Iddor Makananyane (29), is in November wreed vermoor. Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie in die Noordwes, het in ‘n verklaring gesê die polisie het op 16 November haar lyk in Uitbreiding-8 in die informele nedersetting, Scotland, op Coligny gevind waarna hulle haar liggaam uit ‘n puttoilet moes verwyder. Sy het verskeie steekwonde in haar rug gehad.
Volgens kol. Myburgh het Coligny-speurders onverpoos gewerk om die beskuldigde op te spoor en het op Vrydag, 18 Desember Kamogelo Tlangwe Mokgothu (25) vir haar moord in hegtenis geneem.
Mokgothu het Maandag, 21 Desember in die plaaslike landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op Maandag, 28 Desember.
Die distrikskommissaris van Ngaka Modiri Molema, maj. genl. Mmolawa, het Mokgothu se arrestasie verwelkom en die speurders van Coligny geprys vir hulle vasberadenheid om die beskuldigde op te spoor.





