Polisie lê beslag op dwelms van meer as R1 miljoen in Ikageng
Ses vermeende dwelmhandelaars is gearresteer nadat die polisie vroeg Woensdagoggend (23 Desember) op dwelms, met ‘n straatwaarde van meer as R 1 miljoen, afgekom het.
Ses vermeende dwelmhandelaars is gearresteer nadat die polisie vroeg Woensdagoggend (23 Desember) op dwelms, met ‘n straatwaarde van meer as R 1 miljoen, afgekom het.
Kol. Adéle Myburgh, mediawoordvoerder van die polisie in die Noordwes, sê die polisie het ʼn wenk van die publiek ontvang wat hulle na Uitbreiding-11 in Ikageng gelei het. “Lede van die Potchefstroomse Blitspatrollie en Misdaadvoorkomingseenheid het vinnig opgetree en beslag gelê op 59 kg dagga en meer as 200 tablette wat vermoedelik Mandrax is”, sê Myburgh.
Die verdagtes is almal tussen die ouderdom van 28 en 35 jaar en sal Maandag, 28 Desember in die landdroshof op Potchefstroom verskyn.
Die provinsiale kommissaris van die polisie in die Noordwes, lt.genl. Selo Kwena, het die polisielede vir hulle vinnige optrede geprys en die publiek verder aangemoedig om die oë en ore van die polisie te wees en so die lewens van onskuldige slagoffers te red.
Kol. Myburgh sê dat die publiek hulle plaaslike polisiestasies of Crime Stop tel. 08600 10111 kan skakel om inligting aan die polisie te gee sonder om hulle eie identiteit bekend te maak. Anonieme wenke kan ook via die MY SAPS toepassing op slimfone gegee word.







