Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het verlede week sy kommer uitgespreek oor studente in Potchefstroom wat katte aanneem en besit sonder dat hulle die nodige finansies of tyd het om vir dié diere te sorg.
Die NDBV is bewus gemaak van ‘n ernstige saak waar studente wat in Potchefstroom woon, katte en klein katjies aangeneem het vir “geselskap” gedurende hul akademiese jaar en inperking en dan gedurende skoolvakansies die katte in hulle wonings in Potch agtergelaat het. In ‘n persverklaring van die NBDV se woordvoerder, Keshvi Nair, word daar gepleit dat studente nie die aanneming en besit van diere ligtelik opneem nie.
“Honde en katte kan verby die ouderdom van vyftien jaar leef, en hulle moet as ‘n lewenslange verbintenis beskou word. Studente is nie altyd in staat om hierdie tipe langtermynverbintenis te handhaaf nie,” lui die verklaring.
Volgens die NDBV is daar ‘n groot aantal uitdagings wat studente in die gesig staar as dit by die aanneming van diere kom.
1. Die meeste studente verdien nie ‘n vaste inkomste nie en is afhanklik van ‘n ‘toelaag’. As daar ‘n salaris verdien word, word daar eers vir skoolgeld, handboeke en ander benodigdhede voorsien. Sodoende is die diere se behoeftes laaste op dié lys.
2. Studente het gewoonlik nie permanente verblyf nie en maak dus gebruik van die studentekoshuise op die kampus. Die dier kan nie voor gesorg word nie, aangesien die meeste studentekoshuise nie die aanhou van troeteldiere toelaat nie.
3. Studente het ook nie baie tyd om hul diere te versorg en na hulle om te sien nie, weens klasskedules, studietye, buitemuurse aktiwiteite ens.

“Om ‘n dier aan te neem sonder om dit mooi te oordink, of om skuldgevoelens te hê om die dier ‘n ‘huis’ te gee, is eenvoudig nie regverdig vir die dier nie, want uiteindelik beland daardie dier terug in ‘n diereskuiling of in die straat as daar nie vir hom gesorg kan word nie,” noem Nair.
Volgens die NDBV kan skoolvakansies nie as ‘n uitdaging beskou word nie. As studente hulle katte by die huis los, getuig dit eerder van onverantwoordelike eienaarskap. Dit is sodoende onaanvaarbaar as katte in hierdie tyd vir hulself moet sorg.
Die NDBV herinner ook die publiek daaraan dat as ‘n dier verlaat word, dit ‘n direkte oortreding van die Wet op die Beskerming van Diere nr. 71 van 1962 is waarvoor klagtes gelê sal word indien ‘n persoon skuldig bevind sou word.
“Die aanneming van ‘n dier moet slegs gedoen word na deeglike oorweging, as ‘n mens regtig bereid is om ‘n lewenslange verbintenis aan te gaan. Ons doen ‘n beroep op studente en universiteite om verantwoordelik op te tree en die algemene welstand van die dier wat jy probeer red, te oorweeg.” 



