‘n Rugbyspeler met ‘n groot hart, ‘n fantastiese humorsin en ‘n ware yster op en van die veld. Dit is hoe rugbylui van Potch Dorp en Wes-Transvaal die voormalige flank, Piet Liebenberg, sal onthou. Liebenberg is verlede week weens orgaanversaking in die ouderdom van 59 jaar oorlede. Hy het ten tyde van sy dood in Potchefstroom gewoon en sal deur baie mense binne en buite rugbykringe gemis word. Dit is in rugby waar Liebenberg sy grootste nalatenskap het. Hy het in 1979 aan Volkies matrikuleer en het daarna vir Potch Dorp Rugbyklub en later op provinsiale vlak in 50 wedstryde vir Wes-Transvaal uitgedraf.
“Dit is met groot leedwese dat ons vandag verneem het dat Piet Lieb ‘n ware Potch Dorp legende die tydelike met die ewige verwissel het,” het Potchefstroom Dorp Rugbyklub op hulle Facebookblad genoem.

Sy boesemvriend en spanmaat in die lostrio, Don Berry, het ‘n hegte band met Liebenberg gehad en onthou al die goeie tye wat hulle op en van die rugbyveld gedeel het. “Ek het Piet vanaf 1980 in Wes-Transvaal se o.20 spanne leer ken. Van daar af het ons gereeld saamgespeel. Piet was ‘n iemand wat altyd grappies gemaak het en ‘n sterk sin vir humor gehad het,” vertel Berry. Berry onthou ook ‘n staaltjie op die gholfbaan wat hy altyd sal onthou.

“Ek en Piet Lieb het een keer saam met Anton du Preez en Albert Rabie (twee professore) op die gholfbaan scramble gespeel. Piet het ‘n gewoonte gehad om met die afslaan die gholfbal net so voor sy linkervoet te sit en glo my, hy kon ‘n bal behoorlik ver slaan. Die twee stel toe voor dat hy die bal eerder tussen sy twee bene moet sit, aangesien hy dalk ‘n sterker swaai sal hê.” “Piet sê toe droogweg vir hulle: ‘Dis waarvoor ek bang is.’ Ek dink hulle het eers later agtergekom wat hy bedoel het,” skerts Berry.
Prof. Manie Spamer, oud Wes-Transvaal afrigter het ook ‘n huldeblyk aan Liebenberg gebring: “As afrigter sal ek Piet onthou as een van die mees lojale en hardwerkendste spelers. Altyd gelag en ‘n grappie gemaak. Hy, Don Berry en Kierie Barnard was ‘n gedugte lostrio. Rus in vrede my vriend. Jou nagedagtes is vir ewig in ons gedagtes gegiet.”
Die voormalige Wes-Transvaal stut en huidige Potch Dorp president, Sakkie Raath, onthou ook vir Piet Lieb as een van die ysters van die spel. “Wat ‘n boytjie – lojale en vriendelike mens. Ek sal ook graag ‘n stout op hom wil drink.”




