Vier wat teen plaasmoorde stap, arriveer in Potchefstroom
Die vier swart mans wat ‘n bewusmakingsveldtog teen plaasmoorde loods, het verlede Dinsdag uit die Oos-Kaap te voet weggespring en vanmiddag (18 April) in Potchefstroom aangekom.
Die vier swart mans wat ‘n bewusmakingsveldtog teen plaasmoorde loods, het verlede Dinsdag uit die Oos-Kaap te voet weggespring en vanmiddag (18 April) in Potchefstroom aangekom.
Petrus Sitho, Tebogo Mosieleng, Sakhumzi Qave en Matthew Mananga het vanoggend vanaf Klerksdorp na Potchefstroom geloop en het ondersteuning van plaaslike inwoners en veral AfriForum-lede gekry wat met hul voertuie in ‘n konvooi agter hulle aangery het om hulle te beskerm.
Hulle het van Klerksdorp oor die brug in Nelson Mandelarylaan verby die Mooirivier Inkopiesentrum tot in Peter Mokabastraat by Adato Gastehuis gestap waar hulle vandag sal rus, hulle klere sal was en more-oggend na ontbyt weer in die pad sal val.
Vriendelike personeel van Baillie Park Spar het vir hulle kos, water en lekkergoed langs die pad uitgedeel. Lede van AfriForum wat saam met hulle by die gastehuis aangekom het, het hulle seën en beskerming op die pad toegebid voordat almal in verskeie rigtings beweeg het.

Die mans se dag begin elke oggend omstreeks 04:00 en hulle stap gemiddeld sowat 50km per dag. Hulle maak op weldoeners staat vir oornagverblyf en ander benodigdhede.
Maroela Media het berig dat Sitho sedert 2018 ʼn uitgesproke aktivis teen plaasmoorde en –aanvalle is en dat hy verlede jaar by sy werk afgedank is omdat hy die boeregemeenskap van Senekal in die Vrystaat na die moord op Brendin Horner ondersteun het. Hy het al verskeie teenkanting vir sy bewusmaking ontvang en het vertel dat hy aangerand is toe hy destyds drie dae lank by die Uniegebou in Pretoria uitgekamp het om ook ʼn memorandum aan Ramaphosa te oorhandig. Mosieleng, Qave en Mananga het van Sitho op sosiale media bewus geword en het later besluit om hom te ondersteun.
“Ek wil aan president Cyril Ramaphosa vertel dat sy oë moet oopgaan en dat hy plaasmoorde in die openbaar moet verwerp. Ons is besig om dieselfde pad as Zimbabwe te loop as ons nie ons boere gaan beskerm nie. Wit, swart, bruin, Indiër en Khoisan boer. Dit is my boere en hulle sorg vir die kos op ons borde”, sê Sitho ernstig.
Weldoeners wat die vier mans kan bystaan deur oornagverblyf te verskaf, kan Lynette Strydom by 084 211 7646 of Zettie Potgieter by 079 759 0410 kontak. Vir meer inligting rakende ander benodigdhede vir die pad, stuur ʼn e-pos na Lcm@xis.co.za.




