
Die oudste oud-Volkie het gister (Maandag, 19 April) sy laaste asem op 94-jarige ouderdom uitgeblaas. Die legendariese Frik (Frederick Barend Christoffel) Kirsten (gebore 2 April 1927 – 19 April 2021) was een van die trotste Volkies en hierdie Potchefstromer, beter bekend as Oom Frik, het in baie mense se lewens ‘n verskil gemaak.
Of dit nou op sport, onderwys of besigheidsgebied was, het Oom Frik altyd die mense na aan hom met respek behandel en was nog op sy hoë ouderdom nog graag sy ervaringe en kennis gedeel het.
Oom Frik het ook nog gereeld by die skool kom kuier. Hy het juis op 31 Maart vanjaar sy verjaarsdag saam met die skool se personeel gevier. “Al sewe van oom Frik se kinders is oud-Volkies en tot onlangs het ons hom gereeld langs die sportveld gesien waar hy trots sy alma mater ondersteun het. Oom Frik was die oudste oud-Volkie en ‘n brokkie van sy groot voetspore bly in ons harte agter,” het die skool in ñ verklaring gesê.
(VIDEO) Oom Frik lui Volkies se skoolklok op 31 Maart 2021
Frik is gebore op ‘n plaas in die Boskop omgewing, Potchefstroom, was op Laerskool Boskop en hoofseun van die Hoër Volkskool, Potchefstroom waar hy in 1946 matrikuleer. Hy verwerf ‘n BA Graad in Onderwys aan die Potchefstroomse Onderwys Kollege. Hy begin skoolhou in Ermelo, waar hy sy gade Anne Hudson ontmoet. Sy is die niggie van Dr Nic Hudson, voormalige hoof van Hoër Volkskool, Potchefstroom.
Hy is in 1966 onderhoof by Laerskool Baanbreker toe hy na Laerskool Baillie Park verplaas word na die dood van die eerste hoof, Mnr Jooste. Bailliepark was toe net nuut gebou vir die uitbreidings wat in daardie rigting in Potchefstroom plaas gevind het. Hy het daar aangebly tot sy aftrede in 1987.
Na sy aftrede was hy by verskeie besighede betrokke tot ouderdom 76, waarna hy voltyds afgetree het om na sy verswakte gade om te sien wie hom op 11 November 2009 ontslaap het. Frik was ‘n begaafde sportman en het in krieket, rugby en atletiek uitgeblink. Hy het eerste liga krieket vir Pote gespeel en rugby vir die ou Wes Transvaal as flank en kaptein en ook vir Oos Transvaal.
Hy was ook ‘n befaamde hekkies atleet en het op ‘n stadium 3de in die 110 m hekkies op die SA Kampioenskappe gekom.
Sy liefde vir sang, tuinmaak, boerdery (hy het op ‘n melkplaas grootgeword) en sport het telkens deurgeskemer in sy werk en die invloed wat hy in die onderskeie skoleligas uitgeoefen het.
Hy het die kunswedstrydvereniging in Potchefstroom gestig, was betrokke by die uitbou van alle sportligas vir die laerskole en sy skool se sportspanne het verskeie top presteerders oor die jare opgelewer soos Robert du Preez en Wyle Louis Vorster.
Hy was instrumenteel om krieket in die Afrikaanse Laerskool ligas te vestig in Noordwes. Laerskool Baillie Park se koor was een van die eerste skole wat ‘n langspeelplaat geproduseer het. Frik het ‘n besonderse kennis en liefde vir bome gehad en by elke skool waar hy was is daar nog van die inheemse bome wat hy laat aanplant het. Hy was geliefd onder sy kollegas en leerders en orals waar hy gekom het, het voormalige leerders hom voorgekeer en uitbundig gesels. Dié onderwyser het geglo in respek, vriendelikheid, dissipline en deelname.
Elke kind moes aan iets deelneem en het die geleentheid gekry om deel te neem. Volgens sy seun Barend was Frik by uitstek ‘n mense-mens en het na almal uitgereik. Hierdie oupa was besonder trots op en betrokke by sy kleinkinders.
Twee van sy kleinkinders, Frik en Jannes Kirsten het vir die Blou Bulle rugby gespeel.
Hy het elke geleentheid waarin die kleinkinders deelgeneem het, probeer bybring. Hy was tot sy dood gesond en het sy eie voertuig bestuur en het gereeld self na sy vakansieplek in Danabaai gery. Hy was ook betrokke by die Oud Volkies Vereniging en sy een dogter, Dorél Viljoen, hou steeds daar skool.
Frik word oorleef deur 7 kinders (4 seuns en 3 dogters), 13 kleinkinders en 7 agterkleinkinders Daar sal op 30 April om 11:00 by NG Kerk Potchefstroom-Oos ‘n gedenkdiens plaasvind. Omdat hy vooraf veras word kan meer mense by die diens toegelaat word.