CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Nuwe uitvoerende burgemeester op onwettige wyse verkies

Raadslede van die DA, VF+, EFF het gister (14 Mei) die JB Marks munisipale raadsvergadering verlaat nadat die ANC daarop aangedring het om die nuwe burgemeester van JB Marks met die opsteek van hande te verkies.

Raadslede van die DA, VF+ en EFF het gister (14 Mei) die JB Marks munisipale raadsvergadering verlaat nadat die ANC daarop aangedring het om die nuwe burgemeester van JB Marks met die opsteek van hande te verkies. Die ANC het daarna Raadsheer Mmapule Mataboge as die nuwe uitvoerende burgemeester van JB marks aangewys.

ʼn Eenvoudige verkiesing tydens Vrydag se raadsvergadering wat volgens wetlike riglyne moes plaasvind, het in ‘n urelange debat ontaard. Die speaker van die JB Marks munisipaliteit, Elias Mogeemang, het later tot ʼn openbare verkiesing ingestem waar almal wat wou stem hulle hande moes opsteek.

Volgens die ander partye was hierdie stemming teen die wet en het DA-raadslid Hans-Jurie Moolman, ʼn bekende regsgeleerde van Potchefstroom, die wet soos volg verduidelik: “Die verkiesing van openbare ampsdraers word deur Bylae 3 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture gereguleer. Dit is ʼn nasionale wet van die parlement wat die strukture van die plaaslike regerings in Suid-Afrika reguleer en skryf voor dat die stemming vir ʼn uitvoerende burgemeester deur middel van ʼn geslote of geheime stemming moet geskied.” Hy het verder gesê dat dié bepaling bedoel is om diegene wat stem, die geleentheid te gee om ʼn bewustelike besluit te neem sonder dat hulle van buite af bedreig of beïnvloed word.

Marlene du Toit, raadslid van die VF+, het gister ook hulle party se weersin in die ANC se optrede uitgespreek: “Dit is ʼn skandelike vertoon van die ANC se minagting vir die land se wette en ʼn duidelike bewys hoe die ANC regering hulself bo landswette stel om hul persoonlike belange te bevorder.”

Volgens die DA wys hierdie optrede dat die erg verdeelde ANC nie vertroue in hul eie raadslede het nie. “Die ANC is bang dat ʼn herhaling van gebeure mag plaasvind toe ʼn DA-burgemeester in 2012 verkies is nadat nege ANC-raadlede ten gunste van ʼn DA-burgemeester gestem het”, sê DA-raadslid, Chris Hattingh. Hy het ook verder in ‘n verklaring gesê dat die DA ʼn mosie van wantroue teen die speaker, Moseemang, sal bring vir sy besluit om die openbare stemming goed te keur.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button