CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Bekende kunstenaar van Potchefstroom sterf

Hennie Kruger, ‘n bekende kunstenaar van Potchefstroom en oud-kunsonderwyser van Volkies, is Maandag, 24 Mei om 23:45 in die Leratong Hospitaal in Krugersdorp oorlede.

Hennie Kruger, ‘n bekende kunstenaar van Potchefstroom en oud-kunsonderwyser van Volkies, is Maandag, 24 Mei om 23:45 in die Leratong Hospitaal in Krugersdorp oorlede.

Frans Kruger, Hennie se broer, sê Hennie het middel April vanaf Parys na ‘n meenthuis in Roodepoort verhuis om nader aan sy broers en suster te wees. Hy is Maandag, 10 Mei skielik  met erge maagpyn en naarheid in die hospitaal opgeneem. Dokters het bevestig dat hy nie Covid-19 gehad het nie, maar kon nie presies vasstel wat hom makeer nie. Die familie vermoed dat hy dalk ‘n beroerte gehad het.

Hennie was bekend vir sy realistiese figuur- en portretstudies maar het ook graag met abstraksie geeksperimenteer.  Hy was ‘n gebore kunstenaar wat geglo het God het hom geskape om Sy skepping kreatief te interpreteer “Ek was geskep om ‘n kunstenaar te word en is bloot ‘n instrument in God se hand wat hier is om Sy skepping deur my werk te interpreteer.” Hy was ‘n ekspressiewe kunstenaar wat sy emosie op sy skilderdoek weergegee het. “As ek terugkyk na voltooide kunswerke word ek teruggevoer na die gevoel wat ek ervaar het toe ek dit geskilder het. Hulle (my skilderye) is a visuele dagboek van my lewe. ‘n Skildery wat die aanskouer nie uitlok om vrae te vra nie, is ‘n prentjie. Prentjies frustreer my, my hele wese rebelleer daarteen.”

Hennie Kruger, Ongetiteld, Olie op doek.
Hennie Kruger. Ongetiteld. Olie op doek
Hennie Kruger, Ongetiteld. Olie op doek

‘n Dosent in kunsgeskiedenis aan die Noordwes Universiteit, prof. John Botha, was ‘n goeie vriend van Hennie wat destyds saam met hom beeldende kuns aan die PU vir CHO studeer het. Vir Botha wat talle solo-uitstallings van Hennie oor die afgelope 40 jaar geopen het,  is die nuus van sy dood baie hartseer. “Ek het hom leer ken as ‘n diep, stillerige, onrustige maar deernisvolle mens. Hy was ‘n Godvresende mens, ‘n unieke en talentvolle kunstenaar wat homself onderskat en ander altyd bo homself gestel het. Sy dood laat ‘n vakuum wat niemand kan vul nie en ek glo hy sal in ons geheue as ons eie Vincent bly voortleef.”

Elmarie Weyers, kurator van die Potchefstroomse Museum sê die volgende oor hom: “Hennie Kruger se verbintenis met die Potchefstroomse Museum strek oor dekades. Deur sy talle solotentoonstellings by die museum het ons hom leer ken as ʼn ware meester van sy vakgebied – ʼn kunstenaar in murg en been. Hy kan sonder twyfel as een van Suid-Afrika se beste ekspressionistiese kontemporêre kunstenaars geklassifiseer word.  Hennie  het dikwels gesê:  “Ek is ʼn instrument in die hande van God.  Ek is geskep om ‘n kunstenaar te wees.  Ek herskep slegs Sy volmaakte skepping met my kwas en verf”.  Sy nagedagtenis leef voort in sy talle kunswerke in museums, privaatbesit en galerye dwarsdeur Suid-Afrika en die buiteland.”

Hennie Kruger. Foto: Deon Terblanche

Een van Hennie se studente, Lelanie de Vry, wat saam met Hennie in Parys woonagtig was en hom die afgelope vyf jaar persoonlik leer ken het, koester met deernis herinneringe aan Hennie. In ‘n huldeblyk skryf sy: “My liewe kunsmeester, daar is nie ‘n gelyke aan jou nie. Jy het nog altyd almal se seer raakgesien te midde van jou gebroke wêreld waarin jy jouself bevind het. Ek was deel van jou wêreld en dit is ‘n eer om agter te bly en jou net die beste toe te wens daar waar jy nou heen gaan. Mag Jesus altyd ons eerste opsie wees.”

Hennie laat sy seun, Tjaart , sy suster, Linda en sy broers Tjaart, Frans en Peet agter. Sy gedenkdiens vind op Woensdag, 2 Junie om 11:00 by die NG Kerk, Bult-gemeente (Esselenstraat 42)plaas. Sy lewe word met ‘n kunsuitstalling van sy oud-studente gevier. Hulle word genooi om op 2 Junie om 9:45 elkeen ‘n kunswerk en esel van hul eie na die kerkgebou toe te bring.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button