Droomspore: kunsuitstalling open vanaand
Nostalgie en misterie is die oorhoofse tema van “Droomspore”, ‘n solo-tentoonstalling van Eljana Wiid wat vanaand (1 Junie) by die Snowflake-gebou open.
Nostalgie en misterie is die oorhoofse tema van “Droomspore”, ‘n solo-tentoonstalling van Eljana Wiid, wat vanaand (1 Junie) by die Snowflake-gebou open. Dié uitstalling kombineer nuwe en ou werke van vorige uitstallings. Volgens haar is “Droomspore” ‘n opvolg van haar vorige uitstalling, “Wonderlust”, waarin sy skilderye geskep het van tonele uit al die verskillende wêrelddele wat sy besoek het. Tonele wat ‘n atmosfeer weergee en ‘n blywende indruk op haar gemaak het.

Eljana is ‘n avontuurlustige kunstenaar wat onder meer vir bykans ‘n jaar net ‘n entjie van Frida Kahlo se huis in Meksikostad gebly het. Hoewel sy deur die kleurryke Meksikaanse kultuur geïnspireer word, is sy van mening dat ‘n mens nie na eksotiese stede hoef te reis om inspirasie te kry nie. “Ek was nog altyd iemand wat daarvan hou om weggevoer of meegevoer te word. Om te reis is in ‘n sekere manier ‘n vorm van wegvoering en meevoering. Nou dat ek nie meer alleen is nie en ‘n gesin het, kan ek nie meer so reis nie. Tog kan ek steeds ontvlug deur die misterie van blomme, nostalgiese tonele en gevonde objekte met karakter.
In haar tweede solo is blomme haar inspirasie. Blommerangskikking en blominstallasies is ‘n nuwe kunsvorm waarin sy haar graag laat meevoer. Sy sien ook graag die misterie en nostalgie in vervalle tonele en gevonde objekte raak. Vir haar is ‘n verlate, leë swembad en geroeste doodskiste opgestapel in ‘n begraafplaas in Meksikostad nie ‘n hartseer toneel nie. Sy kyk met ander oë na dié tonele en sien kleur, tekstuur en lig raak wat aan ‘n amper surrealistiese toneel ‘n misteriese kwaliteit verleen.

Die openingsgeleentheid van “Droomspore” begin vanaand om 18:00 en alle kunsliefhebbers is welkom. Met die nuwe inperkingsmaatreëls mag 100 besoekers met maskers binne die gebou toegelaat word. Die kunsuitstalling duur tot Saterdag, 3 Julie.





