Oproeriges gebruik stortingsterrein om eise te stel
Van Maandag (7 Junie) af het 'n groep oproeriges die paaie na die stortingsterrein afgesper sodat munisipale trokke nie die vullis kan stort nie.

Van Maandag (7 Junie) af het ‘n groep oproeriges die paaie na die stortingsterrein afgesper sodat munisipale trokke nie die vullis kan stort nie.
Jeanne Adriaanse, DA-raadslid en koukus voorsitter sê die munisipale trokke het agterroetes met sekuriteitsbegeleiding gebruik om die probleem te oorkom. “Vullis is verwyder maar dit het langer as gewoonlik geneem”, sê Adriaanse.
Die waarnemende direkteur van vullisverwydering, Eddie Modiagotle, het Maandag suksesvol met die oproeriges onderhandel waarna die roetes weer oopgestel is. Ongelukkig het daar Dinsdag weer ‘n nuwe groep opgedaag wat die paaie afgesper en klippe begin gooi het.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Sam Mosibi, is sedert Dinsdag met die groep in onderhandeling.
Volgens Modiagotle, is hierdie groep polities gedrewe en sukkel hulle om ‘n ooreenkoms te bereik. “I am trying to get water from a rock”, het Modiagotle aan Adriaanse gesê.
Vandag was die roetes tydelik oop, maar is later weer afgesper. Volgens Adriaanse blyk dit dat die onrus nog nie opgelos is nie. Adriaanse sê die polisie is tans op die toneel en hulle werk hard om ‘n oplossing te kry. Sy sê verder dat die DA enige optrede wat dienslewering in die wiele ry ten sterkste afkeur.
“Dit is ‘n groot gesondheidsrisiko veral in hierdie Covid-typerk waarin ons, ons self bevind.”
Dit is nog onduidelik watter eise die groep oproeriges aan die munisipaliteit stel.




