‘n Skoon en netjiese Potchefstroom is iets wat elke inwoner graag sal wil aanskou. Die CleanUp Together: JB Marks forum wil seker maak dat dit ‘n realiteit is met ‘n spesiale skoonmaakweek wat vanaf 1-10 Julie gaan plaasvind. Inwoners het nou die geleentheid om skouer aan die wiel te sit en hande met hulle bure, vriende en familie te vat om hulle straat en buurt skoon te hou.

Volgens Ds. Willem Louw, die voorsitter van CleanUp Together, kan enige iemand betrokke raak en ‘n straat of spesifieke area in Potchefstroom en omliggende areas aanneem.
“Ons wil graag ‘n volhoubare skoon stad hê waar ons almal kan saamwerk. Ons wil die bestaande rolspelers bymekaarbring en die gemeenskap opvoed en bemagtig om ‘n kultuur van skoon lewe en handel aan te moedig,” noem Louw.

Louw verduidelik ook CleanUp Together nie die werk van die J.B. Marks Munisipaliteit oorneem nie, maar eerder saam verskillende rolspelers werk om die las minder te maak – soos die spreekwoord sê ‘vele hande, ligte werk.’
“Ons het gevoel as ons bymekaar kom en energie saamgooi kan ons soveel meer vermag. Die CleanUp Together-forum het in 2019 ontstaan met Proff. Juaneé Cilliers en Fika Janse van Rensburg wat voorheen voorsitters was.
“Ons moet aanvaar die munisipaliteit kan vir verskeie redes nie die volume van rommel hanteer nie. Ek dink enige inwoner kan by sy eie sypaadjie begin. Misdaad neem ook toe as ‘n stad vuil is so dit is ‘n belangrike faktor om hande saam te vat en die stad skoon te hou,” meen Louw.
Volgens Louw is daar verskillende maniere om tydens die skoonmaakweek betrokke te raak.
“Ons het ‘n kaart van Potchefstroom waar vrywilligers verantwoordelik vir ‘n sekere straat of area in Potch is. CleanUp Together sal die spesifieke area aanteken op die kaart deur dit in te kleur.Sodoende kan mense wat op die skakel kliek en weet by watter areas daar vrywilligers is. Dit maak dit makliker dat verskillende organisasies en mense kan saamwerk en voorkom ook oorvleueling,” verduidelik Louw.
Kliek op die foto hieronder om na die Google Maps kaart te gaan:

Louw noem ook dat inwoners die forum kan kontak rondom “hotspots” waar berge vuilgoed lê. “As die gemeenskap eienaarskap van ‘n area neem kan die CleanUp Together forum verder hulp bied. Ons kan byvoorbeeld vra dat mense in die herwinningsbedryf die vuilgoed oplaai as daar te veel is,” noem hy.
“As ‘n park of ‘n area in die stad mooi skoon is het dit ‘n inspirerende effek om almal opgewonde te maak om skoon te maak.”
Belangstellendes kan vir Willem Louw kontak by cleanuptogetherjbm@gmail.com



