CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Ongelukkigheid oor sakeman se planne met pad

‘n Potchefstroomse sakeman, Sonny Havenga, het ‘n gedeelte van Gouwsstraat Noord in 1998 by die destydse Potchefstroom Stadsraad gekoop. Hy is nou besig om by die munisipaliteit aansoek te doen om die straat met ‘n heining af te sper.

‘n Potchefstroomse sakeman, Sonny Havenga, het ‘n gedeelte van Gouwsstraat Noord in 1998 by die destydse Potchefstroom Stadsraad gekoop. Hy is nou besig om by die munisipaliteit aansoek te doen om die straat met ‘n heining af te sper. Gouwsstraat Noord is ‘n kort straatjie wat uit Piet Uysstraat draai en parallel met Gouwsstraat loop.

Havenga se besluit om die straat in twee te deel, sal ander gebruikers van die pad benadeel omdat hulle dan slegs vier meter van die pad kan gebruik, terwyl hulle nou toegang tot die hele pad het.

Die kort straatjie verleen toegang tot ‘n besigheid, West Potch Properties (Erf 13/147), wat aan Ismail Hassim behoort. Dit verleen ook toegang na ‘n parkeerterrein van ‘n woonstelkompleks, Marose Court (Erf 12/147), wat op die hoek van Piet Uysstraat en Gouwsstraat Noord geleë is. Indien die pad in twee gedeel word, sal die huurders van West Potch Properties wat by Hassim huur, nie die geleentheid hê om voorraad by hulle stoor af te laai nie. Diegene wat by Marose Court woonstelle bly, sal ook sukkel om die ingang tot hul parkeerterrein te gebruik, omdat daar nie genoeg ruimte in die vier meter ruimte gaan wees wanneer voertuie gelyk in en uit die parkeerterrein wil ry nie.

Havenga se koop van die gedeelte van Gouwsstraat Noord was destyds onderhewig aan sekere voorwaardes wat die stadsraad aan hom gestel het. Raadsdokumente stipuleer dat hy die volgende vier serwitute moet registreer:

  • ‘n Algehele reg-van-weg sowel as dienste-serwituut ten gunste van die Stadsraad (en indien nodig Telkom)
  • ‘n Dienste-serwituut ten gunste van die Stadsraad, 2 meter breed oor erf 2963 (Havenga se eiendom) in verband met ‘n bestaande elektriese kabel
  • ‘n Dienste-serwituut ten gunste van die Stadsraad, 1 meter reg rondom die bestaande substasie op erf 2963 (Havenga se eiendom)
  • ‘n Serwituut van reg-van-weg ten gunste van erwe 13/147 (Hassim se erf) en 12/147 (Marose Court se gronde), vier meter breed.

Uit die voorskrifte van die laaste serwituut, word daar dus afgelei dat die huurders van West Potch Properties en die woonsteleienaars/-huurders slegs vier meter van die pad mag gebruik. Hiervolgens het Havenga besluit dat hy die straat presies gaan afsper sodat die ander padgebruikers net ‘n laan het wat vier meter breed is om te gebruik.

Op 6 Mei vanjaar het Havenga met die eienaar van West Potch Properties, Ismail Hassim, asook verteenwoordigers van die Marose Court woonstelkompleks, die brandweer, water- en elektrisiteitsafdeling van die munisipaliteit vergader om sy voorgenome planne met hulle te deel. Hoewel Hassim en die verteenwoordiger van die Marose Court woonstelle se trustees later skriftelik teen die heining beswaar aangeteken het wat Havenga in die pad wil oprig, het die verteenwoordigers van die munisipaliteit se brandweer, elektrisiteit en waterafdeling glad nie beswaar teen Havenga se planne gemaak nie.

Hassim het vertel dat hy in die verlede koppe gestamp het met Havenga nadat sy huurders van die West Potch Properties-gebou van hulle voorraad tydelik aan hulle kant van die pad afgelaai het. Sy huurders gebruik die gebou onder meer vir stoorplek vir hardeware wat hulle verkoop. Hy het intussen wel met die huurders gepraat om voorraad nie meer tydelik buite af te laai nie.

Volgens Havenga en sy prokureur, Willem Coetzee, mag Hassim se huurders ook nie in die pad parkeer of voorraad buite aflaai nie, omdat ‘n reg-van-weg serwituut volgens hulle beteken dat voertuie slegs in die pad mag ry om toegang tot die gebou te verkry. In ‘n dokument wat Willem Coetzee prokureurs vir sy kliënt voorberei het, som hy die voorregte van Hassim as volg op: “The right of way servitude was further only intended to allow motor vehicles to gain access to Erf 13/147 and that it was never intended that large vehicles such as interlinks be used to gain access let alone deliveries and definitely not to deposit or to store goods on the servitude area and neither to allow any parking of vehicles within the servitude area.” Hierdeur beperk Havenga Hassim se huurders om in die pad te parkeer en voorraad af te laai.

‘n Regskenner, voorheen in diens van die stadsraad, wat met die opstel van die munisipaliteit se koopkontrak met Havenga betrokke was, sê egter dat ‘n reg-van-weg serwituut ander padgebruikers nie mag voorskryf watter voertuie hulle mag gebruik nie – veral nie in ‘n sentrale besigheidsgebied nie. “Dit gee padgebruikers die reg om die pad te gebruik, besigheid te doen en uit te ry en sluit parkering in die straat in,” sê hy.

In ‘n brief wat Willem Coetzee vir sy kliënt, Havenga, opgestel het, noem hy ook dat die stadsraad ‘n voorwaarde rakende die serwituut opgestel het.

Dit lees as volg: “Geen gebou of ander struktuur mag binne voornoemde serwituut gebied opgerig word nie en geen groot wortelbome mag binne die gebied van sodanige serwituut binne 1.89 meter daarvan geplant word nie.”

Hoewel hierdie voorwaarde uitdruklik stipuleer dat geen strukture in die serwituut-gebied opgerig mag word nie, is Havenga steeds van voorneme om die area met ‘n heining af te sper. Daar word in die prokureursbrief van Willem Coetzee erken dat Havenga nog nie die serwitute geregistreer het nie.

Hassim is baie ontsteld oor die manier waarop Havenga werk en die voorskrifte wat hy aan Hassim se huurder stel om die pad te gebruik. “Ek was nie bewus dat Havenga ‘n gedeelte van Gouwsstraat Noord gekoop het nie. Die serwitute was nie geregistreer toe ek my gebou in 2003 gekoop het nie. Sedert 2003 het my huurders ongehinderd die pad gebruik totdat Havenga skielik allerhande voorwaardes begin stel het,” sê Hassim.

Hy is verder baie ongelukkig omdat die munisipaliteit nie enige beswaar maak oor Havenga se planne om ‘n heining in die middel van die pad op te rig nie. “Hoe gaan die brandweer toegang tot my of die woonstelgeboue kry as daar byvoorbeeld ‘n brand uitbreek? Toe ek aan die brandweer vra hoe hulle die voertuig deur ‘n vier meter noue paadjie gaan kry, het hulle net gesê hulle sal ‘n plan maak en die heining afknip,” vertel Hassim.

Die Herald wou by Havenga weet waarom hy die pad wil afsper, maar hy wou nie self met ons gesels nie en het ons na sy prokureur, Willem Coetzee, verwys, wat tans nie beskikbaar is nie. Volgens die prokureursbrief blyk dit dat Havenga ‘n deurry restaurant op die deel van sy onontwikkelde erf wil bou sodat kliënte by Gouwsstraat kan inry en weer by Gouwsstraat Noord kan uitry. In die brief word ook uiteengesit dat ‘n struktuur by die Noordelike ingang van Piet Uysstraat opgerig moet word om die toegang na die serwituut-area te beheer.

Die Herald het meer as ‘n week gelede verskeie vrae aan William Maphosa, woordvoerder van die munisipaliteit rondom die beplande heining gerig, maar het teen druktyd geen terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie.

Nie Hassim of die verteenwoordiger van Marose Court woonstelle se trustees het ook sover enige terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie. Hulle reageer ook nie op enige navrae wat Hassim aan hulle stuur nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button