Die jong talentvolle Potchefstromer en graad agt-leerder van Hoërskool Ferdinand Postma, Andruscka Botes (13), het die gulde geleentheid om vanjaar saam die room van SA akteurs en aktrises in ‘n kortfilm te speel.

Dit is deel van ABS Produksies se reeks kortfilms wat die akteurs Desire Gardner, Albert Maritz, Izak Davel en Viljè Maritz insluit.
Hierdie ongelooflike prestasie het eintlik ‘n interessante geskiedenis wat al in 2019 tydens ‘n sangkompetisie begin het. Andruscka het vir Sing Aanlyn (aangebied deur Anthonie Bougas se produksiemaatskappy, ABS Produksies) ingeskryf en is gekies om deel te wees van die kompetisie met Germandt Geldenhuys as haar mentor (ook bekend as Louis in Binnelanders)
Ondanks die inperking en die huidige Covid-19 pandemie het hierdie multi-talentvolle model en sanger ook nie nee gesê vir die rol van akteur nie. ‘n Maand gelede het Andruscka ‘n oproep van ABS Produksies gekry om te gaan vir ‘n oudisie in Parys op Saterdag, 24 Julie.
Al was daar ongeveer 150 talentvolle mense wat ook ‘n kans gestaan het om gekies te word, het dit nie Andruscka afgesit van hul doel nie – sy is immers nie bang vir kompetisie nie. “Ek kon sien as ma dat sy nogal senuweeagtig was, maar ook opgewonde oor die geleentheid. Sy was tweede in haar groep, en die ander na haar het haar eers laat stres want hul was goed. Hul moes voor die pragtige Charlize Berg en Bradley Olivier (Binnelanders) optree.
Sy is gevra om haar stuk voor te dra asook te sing (Sy het Bonnie Tyler se Total Eclipse of the Heart) gesing,” vertel Andruscka se ma, Bianca.
“Ons het die afgelope Maandag die e-pos gekry dat sy gekies is. Ons weet nog nie wat die naam van die film is nie, maar dit gaan in Suid-Afrika vanaf Desember-Februarie verfilm word,” noem Bianca.
Buiten die sang en akteurswêreld is Andruska ook ‘n bekroonde model wat al vanaf die bloedjong ouderdom van drie modelwerk by Perfection Models aanpak.
Sy het al talle internasionale titels verower en ook onlangs tydens die Covid-19 pandemie aanlyn aan ‘n kompetisie deelgeneem waar sy as 1ste Prinses Pre-Teen Miss Nations SA aangekondig was asook die Algehele Wenner vir Little Model Earth.
Sodoende gaan sy in Desember 2021 en Julie 2022 internasionaal weer in Turkye in wêreldkompetisies deelneem.







