Snoepie staan steeds: munisipaliteit nader prokureur
Die eienaars wat ‘n snoepie (tuck shop) in die Suiddorp, op die hoek van Kruis- en Joubertstraat geopen het, het steeds nie gehoor gegee aan sy skriftelike waarskuwing om die gedeelte van sy gebou wat die bougrens oortree, af te breek nie.
Die eienaars wat ‘n snoepie (tuck shop) in die Suiddorp, op die hoek van Kruis- en Joubertstraat geopen het, het steeds nie gehoor gegee aan sy skriftelike waarskuwing om die gedeelte van sy gebou wat die bougrens oortree, af te breek nie.
Die bouregulasies word tans op twee wyses oortree. Hoewel hulle aanvanklik aansoek gedoen het om ‘n motorhuis en buitekamer op te rig en hul bouplanne by die munisipaliteit daarvoor goedgekeur is, het hulle nooit die bouinspekteurs in kennis gestel om die bouperseel tydens die oprigting van die geboue te besoek nie. Daar is ook oor die bougrens gebou. Hulle gebruik die motorhuis nou as ‘n snoepie waarvoor hulle nie besigheidsregte het nie. Om ‘n snoepie te bedryf moet ‘n eienaar ‘n hersoneringsaansoek indien om besigheidsregte te verkry.
Hersonering is ‘n formele aansoek wat by die munisipaliteit ingedien moet word. Dit word gewoonlik deur ‘n stads- en streeksbeplanner uitgevoer en moet ‘n terreinontwikkelingsplan insluit. Deel van die hersoneringsproses is dat die eienaars van die erf ‘n skriftelike kennisgewing vir vier weke op die terrein moet aanbring wat die nuwe ontwikkeling verduidelik. ‘n Advertensie in Engels en Afrikaans moet ook vir twee weke in ‘n koerant geplaas word om die ontwikkeling aan te kondig sodat die publiek daarvan kennis dra.
Nadat DA raadslid, Johan Zerwick dit weer in Augustus onder die munisipaliteit se aandag gebring het en vereis het dat die saak op die agenda van die volgende raadsvergadering moet dien, het Owageng Melamu, hoof stadsbeplanner, gesê die saak sal nou voor die hof gebring word.
“Die stadsbeplanningsafdeling het ‘n versoek gerig om ‘n prokureur aan te wys sodat die saak voor die hof gebring kan word,” het Melamu aan Zerwick geskryf.




