Rooy kosmark bied lekkernye en hope vermaak
Die Rooy kosmark en kattebakverkoping (Car Boot Sale) vind weer op Sondag, 29 Augustus van 10:00-15:00 by die Van Rooyensaal (Piet Bosmanstraat) plaas.

Die Rooy kosmark en kattebakverkoping (Car Boot Sale) vind weer op Sondag, 29 Augustus van 10:00-15:00 by die Van Rooyensaal (Piet Bosmanstraat) plaas. Daar is heelwat nuwe stalletjies en opwindende plaaslike vermaak waarna jy kan uitsien.
Die mark is bekend vir die heerlike etes en drinkgoed wat hier te koop is. Die kleinspan is ook welkom en hulle word behoorlik besig gehou met gesigverf, ʼn verskeidenheid speletjies, ʼn springkasteel en trapkaskarre.
Rooy Kosmark se spesialiteit is hul gin en Sondag kan smulpape aan die heerlike grenadella gin proe. Vir die hongeres is daar heerlike Maleise lamskerrie, tradisionele skaapafval, beesstert met stampmielies, kerrie en rys en outydse lewerkoekies. Vir die droë keel is daar verder boetiekbier en wyn.
Indien jy op die uitkyk is vir ʼn spesiale geskenk kan jy rondsnuffel tussen silwer juweliersware, geskenkies vir babas, houtmodelle en kralewerk. Versamelaars van oudhede kan met die kattebakverkoping (Car Boot Sale) dalk ook ‘n verrassing of twee ontdek.
Toegang is gratis. Uitstallers en besoekers is verbind tot Covid-19-protokol. Diegene wat graag nog deel wil wees van die mark en hul produkte of goedere wil verkoop, kan gerus vir Tania by 079 918 2092 kontak. Stuur ʼn epos na hullabaloo.decorhire@gmail.com. Die volgende mark word weer op Sondag, 26 September aangebied.
Tania van Rooyen, ‘n professionele sjef reël die mark al vir die afgelope ses jaar en met die meer as 50 stalletjies sorg sy dat die fynproewer se sintuie behoorlik geprikkel word.




