Bekende landskapskilder bied werkswinkel aan
Ignatius Marx, ‘n bekende Suid-Afrikaanse skilder, bied Saterdag, 18 en Sondag, 19 September ‘n landskap skilderwerkswinkel by Semoer Gastehuis aan.
Ignatius Marx, ‘n bekende Suid-Afrikaanse skilder, bied Saterdag, 18 en Sondag, 19 September ‘n landskap skilderwerkswinkel by Semoer Gastehuis aan.
Marx se kunswerke is onder meer in kunsversamelings in Suid-Afrika, Australië, VSA en Europa opgeneem en spreek van ‘n intense liefde vir die natuur. Hy is ‘n gerekende impressionis wat daarvan hou om lig en atmosfeer op doek vas te vang. Hy is meesterlik in tekenkuns en die gebruik van kleur. Hy skilder ook graag tonele met diere.

Die werkswinkel, wat oor twee dae plaasvind, word in samewerking met die Potchefstroom Kunsvereniging aangebied. Semoer was die eertydse woning van die bekende Afrikaanse skrywer, PG du Plessis, en is op die Rysmierbultpad geleë.
Die koste van die werkswinkel beloop R2 080 per persoon en word Saterdag en Sondag van 9:00 – 16:30 aangebied. Dit sluit ‘n ligte ontbyt en middagete, asook ‘n oggend- en middagtee in.
Skilderesels word die dag van die werkswinkel gratis aan kunstenaars verskaf. Kunstenaars sal voor die aanvang van die werkwinkel ‘n lys van kunsmateriaal ontvang wat hulself moet aanskaf.
Kunstenaars wat gedurende die werkswinkel by die gastehuis wil tuisgaan, kan die bestuurder van die gastehuis, Lirie Marais, by 072 953 2976 vir besprekings kontak.
‘n Maksimum van 10 kunstenaars kan die werkswinkel bywoon. Om in te skryf, stuur ‘n e-pos met jou naam en selfoonnommer na potchkuns@gmail.com. Om ‘n groter oorsig oor Marx se werke te kry, volg gerus sy Facebookblad, Ignatius Marx.




