Vriende en familie van ‘n voornemende bruidegom, mnr. Bennie van der Walt van Vanderbijlpark, het lankal belowe hulle gaan ‘n ongewone ramparty vir hom reël. Min het hulle geweet dat voertuigdiewe op Saterdag, 21 Augustus, sou sorg vir ‘n onvergeetlike manneparty waar hy en van die gaste ure lank aan ‘n lewensgevaarlike, adrenaliengevulde jaagtog moes deelneem! Die drama het verlede Saterdag omstreeks 13:00 begin toe familie en vriende by ‘n hoewe in Mullerstuine bymekaargekom het om Bennie en sy aanstaande bruid, Saira-Lee Nel, vir die gebruiklike ram- en henneparty in te wag.
Dirk, die gesteelde voertuig se eienaar, het dadelik saam met die bruid se swaer, mnr. Riaan Hamilton, in sy Amarok-bakkie ingespring om die diewe agterna te sit. Toe Bennie besef wat aangaan, het hy Saira-Lee vinnig afgelaai en sy toekomstige swaer, Hannes, en vriend Viaan in sy voertuig laat inklim om ook by die agtervolging aan te sluit. Hulle het die diewe by die vierrigting-stop naby Golden Goose ingehaal en verder op die R57, rigting Bophelong, agtervolg.
In die haas bly arme swaer Hannes toe langs die pad agter – tussen niks en nêrens! “Op die N1, by die Sebokeng/Randfontein-afrit, haal ons toe weer die gesteelde voertuig in. Ons is agter hulle in Orange Farm in, waar ons hulle weer eens verloor. Intussen het swaer Riaan darem vir swaer Hannes langs die pad opgetel. Danksy vinnige dinkwerk van konstabel B.J. Dlamini en sy kollegas in ‘n ander voertuig, kon ons bepaal watter rigting die boewe ingeslaan het. Dit was omtrént ‘n kat-en-muis-speletjie en ons het begin moed verloor. Net toe ons dink die soektog is verby, my oom se voertuig is finaal weg, ontvang ons ‘n oproep met die goeie nuus dat die diewe vasgetrek is. “Dit het op ‘n skietery uitgeloop. Een van die boewe is gewond, maar het ontsnap. Die ander een is gevang,” sê Bennie. Die vroue het intussen bekommerd voortgegaan met die henneparty, terwyl hulle deurgaans in WhatsApp-verbinding met die mans was. Na al die spanning moes die mans eers die gesteelde voertuig se bande wat raakgeskiet is, vervang sodat dit na Vereeniging se polisieperseel geneem kon word. Deur al die drama kry die polisievoertuig boonop ook ‘n pap band wat geruil moes word voordat die voornemende bruidegom en gaste kon terugkeer vir ‘n behoorlike ramparty met skop – en baie stories vir die nageslag! “Ons wil graag vir konstabels B. J. Dlamini en N. Sedi van die SAPS bedank vir hul flink optrede. Hierdie was een van die mees opwindende dae van my lewe,” sê die voornemende bruidegom. * Bennie, terreinvoorman by ‘n groot eiendomsontwikkelaar, en Saira-Lee, wat haar eie laserdrukwerk-onderneming het, gaan mekaar vandag, Saterdag 28 Augustus, die regterhand gee by ‘n deftige trouvenue langs die Vaalrivier. Vaalweekblad wens die paartjie en hul gaste ‘n rustiger troudag toe!







Ramparty raak rof na diefstaldrama | Vaalweekblad




