‘Dit gaan nie net oor die X’s en O’s nie’
Wat maak ‘n besondere sportafrigter? ‘n Mens dink vinnig dit gaan oor die taktiek van ‘n sport. Die vermoë om jou opponent te uitoorlê. Die wen.
Wat maak ‘n besondere sportafrigter? ‘n Mens dink vinnig dit gaan oor die taktiek van ‘n sport. Die vermoë om jou opponent te uitoorlê. Die wen. Vir Chris Erasmus (35) wat onlangs na Suid-Afrika toe teruggekeer het na ‘n suksesvolle tydperk in die VSA as rugbyafrigter, gaan dit nie soos hy sê, net oor die ‘X’s en O’s nie.’ “Veral wanneer jy met jong kinders werk, besef jy dat jy nie net kennis van die sport oordra nie. In sommige gevalle is jy die enigste ouerfiguur wat hulle het,” verduidelik die boerseun van Wolmaransstad oor sy ervaring as afrigter. Ons ontmoet vir middagete om oor sy ervaring by VSA rugby te gesels, maar die gesprek word vinnig een van lewensfilosofie en beginsels. Nadat Chris in 2004 aan Hoërskool Wolmaransstad gematrikuleer het, het hy aan die NWU kom studeer en rugby gespeel. Hy het vir die Luiperds uitgedraf en later vir ‘n klubspan in Spanje, CRC Madrid, gespeel. “Ek het in Spanje vir die eerste keer met afrigting te doen gehad. Hier het ek gehelp om die juniorspanne af te rig. Dit het amper weer die passie vir die spel van voor af in my aangewakker,” vertel hy. Met sy terugkoms in Suid-Afrika het hy met afrigting by Potch Dorp rugbyklub begin help. “Ek moes eintlik net afrig, maar oom Anton Mostert (destydse afrigter) het my oortuig om nog te speel. So toe speel ek nog. Kort daarna het Burger van der Westhuizen vir my gevra om by die NWU klubspan (PUK 1) as afrigter betrokke te raak,” vertel Chris.
Chris het in die tydperk by iSkills Rugby begin afrig en ook by die Luiperds as hulle hoë prestasie bestuurder vir skole begin werk. Na ‘n paar jaar het een van die afrigters onder wie Chris gespeel het, Chris Brown, hom genader om deel te vorm van die Rhinos Rugby Academy strukture in die VSA. Dit klink asof alles net mooi vir Chris in plek geval het. Asof dit bestem is. Hy het nooit die geleenthede gaan soek nie. Hoe gebeur dit? “My oupa het altyd gesê jou naam loop jou vooruit. Ek probeer my bes om altyd professioneel en met deernis teenoor mense op te tree. As ek ’n sessie by iSkills moet afrig, maak ek seker ek is vroeg daar en dat alles goed beplan is. Mense begin agterkom wat hulle van jou kan verwag. Ek was betrokke by die verskillende aspekte in Amerika, skole, hoë prestasie, vrouerugby. Ek het ook as ’n konsultant gehelp om klubs te verbeter,” verduidelik hy. Chris hou nog aan met rugbyafrigting in Potchefstroom waar hy by iSkills Rugby betrokke is. “Ek dink iSkills is ‘n besondere platform, nie net om spelers te verbeter nie, maar ook afrigters. As jy begin afrig is daar nie altyd ‘n geleentheid by ‘n skool of klub nie. Hier het ek baie geleer. André Pretorius is vir my ‘n groot mentor,” vertel hy. iSkills is besig met groot planne en het selfs al ‘n fasiliteit van hulle eie. “Ons doelwit is om ervaring te skep wat spelers kan help om by hoë prestasie omgewings aan te pas. Ons het ‘n goeie netwerk binne Suid-Afrika sowel as in die buiteland. So as spelers deur ons hande gaan, wil ons hê dat die oorgang na professionele sportlui nie so ‘n groot uitdaging is nie,” verduidelik Chris. Hy vertel ‘n vinnige staaltjie van die woord ‘coach’. Wat beteken die woord ‘coach’ of ‘n koets in Afrikaans? Dit is iets wat jou van punt A na B neem. Hierdie pa van twee se naam gaan hom nog ver vooruitloop, nie net as afrigter nie, maar ook as ‘n mens met ‘n passie om mense van hul huidige bestemming na hul eindbestemming te neem. 



