Laaste kans om uitstalling te sien
Kunsliefhebbers wat nog nie die kunsuitstalling, Compassion, by die Toro koffiewinkel in Van der Hoffpark gesien het nie, het nog net tot 10 Desember kans om ‘n draai te maak.
Kunsliefhebbers wat nog nie die kunsuitstalling, Compassion, by die Toro koffiewinkel in Van der Hoffpark gesien het nie, het nog net tot 10 Desember kans om ‘n draai te maak.
Die kunstenaar, Elna Moodie, het in haar skilderye beslis die skoonheid in die alledaagsheid en die gewone van die lewe vasgevang. Sy gebruik temas soos ‘n kind wat swaai, iemand wat ‘n instrument bespeel, ‘n vrou wat skottelgoed was, twee mans wat sit en gesels en ‘n vrou wat koffie in ‘n koffiewinkel drink en skilder dit vanuit ‘n buitengewone hoek. In hierdie geval kyk die toeskouer van bo-af op die toneel wat die indruk skep dat die persoon in die skildery onbewus van die toeskouer se aandag is. Dit gee amper ‘n verhewe status aan die toeskouer wat empaties is teenoor die toneel wat voor hom afspeel.

In hierdie uitstalling is dit duidelik dat fotografie ‘n belangrike invloed in haar werke het. Haar fyn waarneming van lig, kleur en komposisie, ongewone hoeke waaruit sy ‘n toneel skilder en haar briljante manier waarop sy tonele wat uit fokus is skilder, is voorbeelde van die manier waarop sy fotografie in haar werke omarm.

“Ek soek graag ‘n interessante invalshoek of ‘n vreemde speling van lig. Vir my werk verkies ek om my eie foto’s te neem en sal sommer onmiddellik stop om iets af te neem wat my oog vang. Soms is dit moeilik om die gewenste foto te neem en dan gebruik ek my opleiding in ontwerp. Ek collage en superponeer graag verskillende foto’s saam om die gewenste beeld te kry waarvan af ek dan werk,” vertel Elna.

Sy sê dat haar werke altyd ‘n storie vertel. “Ek hou daarvan om mense te laat wonder en dink oor dit wat hulle sien. Ek glo dit kom van my kinderdae toe my ma altyd vir my die mooi illustrasies in die kinderboeke gewys het,” sê sy. Die openingstye van Torro in Van der Hoffpark is Maandae en Dinsdae van 7:00 – 17:00, Woensdae tot Vrydae van 7:00 – 19:00 en Saterdae van 8:00 – 12:00.




