Twee taalboffins saam departementshoof
Vanjaar het Ferdies ‘n slag geslaan met twee juffrouens wat saam die departementshoofpos aanvaar het. Dié pos is gemoeid metr funksies en beleide.
Dit gebeur nie sommer dat twee onderwysers saam ‘n departementshoofpos beklee nie.
Vanjaar het Ferdies egter ‘n slag geslaan met twee juffrouens wat saam die departementshoofpos aanvaar het wat vir funksies en beleide geoormerk is. Die raad wat aangestel was om die mees geskikte kandidaat te kies, kon nie tussen mev. Carin Roux en mev. Nirde Brits kies nie en toe besluit om albei te kies.
Mevv. Roux en Brits is al vir jare passievolle en geliefde onderwysers by die skool.
Mev. Roux is sedert 2008 deel van die Ferdies-span en mev. Brits het in 2018 by die skool aangesluit. Albei hierdie dames is taalboffins. Mev. Roux bied English Home Language by Ferdies aan en het toegesien dat een van Ferdies se graad 12-leerders as die toppresteerder in die Noordwes in English Home Language vir vyf keer in die afgelope ses jaar aangewys is. Die skool se English Home Language graad 12-groep is ook al vir die afgelope ses jaar onder die top drie skole in die Noordwes. In 2020 het die graad 12-groep se uitslae gesorg dat hulle eerste in die Noordwes was.
Roux was ook vir baie jare by die Model United Nations (beter bekend as MUN) betrokke en leerders van haar span het al vier keer in New York City deelgeneem. Sy is deel van verskeie kultuuraktiwiteite by die skool, onder andere English Play, Public Speaking en die interne Pay It Forward-projekte.
Mev. Brits gee Afrikaans Huistaal by Ferdies, waarvan sy ook die vakhoof is. Haar graad 12-groep was verlede jaar die toppresteerders in Afrikaans Huistaal in die Noordwes. Sy is ook Ferdies se VRL-hoof, wat as “moeder” van die skool se leiers optree.
Voor sy by Ferdies aangesluit het, was sy by Crawford College North Coast as departementshoof in Afrikaans aangestel. Sy was ook vakhoof en graadvoog by Durban Girls College in KwaZulu-Natal en hoof van VRL-kultuur by Hoërskool Eldoraigne in Pretoria.
Mev. Brits was verder in 2021 aan die stuur van die redenaars en swem, het gehelp om die skool se spoggeleentheid, Mnr. en Mej. Ferdies te reël en was vanjaar ook die graad-9 leerders se graadvoog.




