NWU-student wen RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie
Erica Harris, ‘n meestergraadstudent in kommunikasiestudies aan die Noordwes Universiteit, het verlede week die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie gewen.
Erica Harris, ‘n meestergraadstudent in kommunikasiestudies aan die Noordwes Universiteit, het verlede week die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie gewen. Dié prysgeld beloop R50 000 en haar gesinsdrama, Kinders, gaan volgende jaar deur professionele akteurs vir die radio opgeneem en later uitgesaai word.
Haar drama het uit 170 inskrywings die botoon gevoer en die beoordelaars beskryf dit as ‘n soort slice of life-verhaal met “perfekte karakters, dialoog en intrige wat vanaf die eerste sekonde tot en met die laaste toneel sy luisteraar meesleur.”
Die verhaal vertel die storie van Bella en Natasha se verhouding wat onder geweldige druk geplaas word wanneer Natasha se eksman skielik sterf. Haar vervreemde, 15-jarige seun, Tiaan, word dan haar verantwoordelikheid. Nie een van die karakters in hierdie eg, menslike gesinsdrama is hierop voorberei nie.
Erica verkies dit om dialoë te skryf – tekste vir die verhoog en radio. Een van haar verhoogstukke, Medium rare: Liriek vir Jamie en Danny, het regisseur Hennie van Greunen, verlede jaar net voor die pandemie, by die Woordfees in Stellenbosch opgevoer.
Sy het geen opleiding in die skryf van radiodramas nie en het net RSG se handleiding vir die skryf van radiodramas gelees. “Wanneer jy ‘n radiodrama skryf, moet jy dit skryf vir ‘n blinde mens wat voorheen kon sien”, sê sy.
Lees meer oor Erica in die volgende uitgawe van die Herald (Donderdag, 9 Desember).




