NewsNews

Promosa Primêr se vaderfiguur tree af na 41 jaar in die onderwys

Na ongeveer 31 jaar by Promosa Primêr, agt jaar by Promosa Sekondêr en meer as 40 jaar se ervaring in die onderwys, skryf Adams in Desember 2021 die laaste hoofstuk van sy onderwysloopbaan.

Vir die afgelope 25 jaar sit die vriendelike en gerespekteerde figuur, mnr. Clement Adams, in die hoof se stoel by Promosa Primêr. Soos die hoof van ‘n huis, is dit amper ondenkbaar om enige iemand anders in daardie stoel te sien. Hy was die een wat die skool se groot gesin met goeie leidingsvermoë deur talle veranderinge gestuur het.

Na ongeveer 31 jaar by Promosa Primêr, agt jaar by Promosa Sekondêr en meer as 40 jaar se ervaring in die onderwys, skryf Adams in Desember 2021 die laaste hoofstuk van sy onderwysloopbaan. Dit meen nie dat hierdie op en wakker gesinsman en bekende steunpilaar in die Promosa gemeenskap net gaan rus nie, maar dat hy nou eerder tyd sal hê vir nuwe uitdagings – iets waarvoor hy nog nooit geskroom het nie.

“Ek was nog nooit bang vir uitdagings en verandering nie. Die maklikste om ‘n uitdaging te trotseer is om dit te bestuur. Die leerders het byvoorbeeld verander met tyd deur die jare en hoe hulle dinge sien, so ook die kurrikulums en slaagvereistes en so meer. Die belangrikste vir my as hoof is om te kon aanpas deur al die veranderinge deur die jare,” noem Adams.

“Ek is al die jare ‘n harde werker en geniet die laerskool verskriklik baie. Dit beteken vir my baie om ‘n verskil in die laerskool te kan maak. Ek glo dat gr. R en 1 die belangrikste jare in ‘n kind se loopbaan is omdat dit die fondasie van leer skep,” noem hy.

Adams vertel dat een van sy groot hoogtepunte as hoof was dat die slaagsyfer by die skool konstant gebly het. “Die skool se slaagsyfer kon ek verbeter en konstant hou by 90% en op. Ek is bly dat ek die skool in totaliteit gebring het tot waar dit vandag is saam met my kollegas. Hulle het dit ook lekker gemaak om skool toe te kom. Agt van my huidige kollegas was op ‘n stadium ook my oudleerlinge,” verduidelik Adams.

Adams se roete na Promosa Primêr, is eintlik al vanaf kindsbeen in werking gestel as leerder van dieselfde skool, wat hy met trots as hoof gelei het. “My oorlede oom het vir my genoem dat die onderwys vir my goed sal wees as beroep. Ek het in 1976 aan Coronationville High School matrikuleer en weens die 1976 onluste, nooit ‘n matriekafskeid gehad nie.

Mr, Clement Adams, skoolhoof van Promosa Primêr vir die afgelope 25 jaar, wat aan die einde van die jaar as hoof aftree. Foto: Wouter Pienaar

Adams was as skoolgaande kind by Promosa Primêr en Promosa Sekondêr, so dit was gepas dat hy weer na sy wortels sou terugkeer om ‘n verskil te maak.

“Ek het in 1980 my eerste onderwyspos by Promosa Sekondêr gekry. Daar was ek 10 jaar betrokke, waar ek een jaar waargeneem het as departementshoof. “By Promosa Primêr is ek na vier jaar bevorder na senior adjunkhoof en toe twee jaar later word ek hoof in 1996.

“Ek het nooit na Promosa Primêr toe gegaan met die doel om hoof te word nie. Ek dink die Here het net ‘n spesifieke plan vir my gehad,” noem Adams wat agt jaar se studies by verskillende instansies agter sy blad het.

Buiten sy rol as skoolhoof is hy ook betrokke by die gemeenskap as leke prediker by St. Michaels Anglican Church in Promosa. “Ek het baie kontak met mense met begrafnisse, doopplegtighede en so meer. Ek was ook katkisasiemeester en tesourier. Ek is ook lief om betrokke te raak met projekte in die gemeenskap soos pretdae en skooldanse, waarna almal uitsien. Baie van die verbeteringe op skoolvlak kom uit projekte waar die gemeenskap betrokke is,” noem hy.

Ander projekte waar Adams ook hand bygesit het was saam met Amira Willighagen se Gelukskinderstigting, wat ook in 2017 ‘n speelpark aan Promosa Primêr geskenk het. In die toekoms sal Adams vir so drie maande rus en ook steeds betrokke bly in die onderwys op administratiewe vlak in verskeie hoedanighede.

“Ek is lief vir lees, sport en flieks kyk. Ek ondersteun Orlando Pirates en kyk ook nou en dan rofstoei. Ek geniet dit ook om in die tuin te werk en ek het ‘n groot liefde vir mooi en vinnige karre,” vertel hierdie pa.

Adams is vanjaar 40 jaar met sy vrou, Mildred, getroud. Hy het ook drie dogters (Shinaaz, Shardre en Sharmille) en vier kleinkinders. “Elke dag gee die Here vir jou ‘n kans om ‘n verskil te maak in ander te lewe. Moenie selfsugtig wees nie en gee terug aan ander. Doen iets sonder om iets terug te verwag. As die Here my weer 41 jaar gee sal ek presies dieselfde doen. Dit was ‘n groot voorreg.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button