Juffrou hou skool eers vir pa en nou vir sy seuns
Dit gebeur nie sommer dat ‘n kleuterskoolonderwyseres vir twee geslagte van dieselfde familie skoolhou nie.
Dit gebeur nie sommer dat ‘n kleuterskoolonderwyseres vir twee geslagte van dieselfde familie skoolhou nie. Dit is selfs meer ongewoon as die juffrou die pa eerste herken.
Toe Dustin Wetdewich, redakteur van Potchefstroom Herald, sy seuntjie Aidan vir die eerste keer by Tjokkerplaas Kleuterskool aflaai, het Elsa de Wit na bykans 24 jaar Dustin weer as die klein, stil, rooikopseuntjie in haar klas by Vaal Reefs Kleuterskool herken.
Vandag hou sy vir albei sy seuns, Aidan (6) en Callum (3) skool.
Onderwys is in Elsa se bloed. Dié liefdevolle en oplettende juffrou se fyn waarnemingsvermoë onderskei haar beslis van die meeste onderwysers. “Ek hou daarvan om met kinders te werk, want hulle is op hierdie klein ouderdom nog so onskuldig, altyd vrolik, liefdevol en waarderend,” sê sy.
Elsa was eers ‘n grondslagfase onderwyseres en het in 1971 vir die eerste keer begin skoolhou by St. Helena Laerskool in Welkom. Vanweë haar man se beroep as konsultant vir groot maatskappye, was sy bevoorreg om by verskeie skole te kon skoolhou.
Sy het by laerskole in Orkney, Oranjemund, en Witbank skoolgehou en by Vaal Reefs haar diploma in kleuterskoolonderwys by Unisa voltooi. Daarna het hul Potchefstroom toe getrek en het sy by Elsie van Huyssteen en Dippe Dap kleuterskole gewerk voordat sy in 2007 die skoolhoof by Tjokkerplaas geword het.
Dié skool het met 12 kinders begin en het vandag 70 kinders wat die ruim, boomryke area ‘n entjie uit Potchefstroom vreeslik geniet. Sy is al meer as 40 jaar onderwyseres en sê terwyl sy nog kan en wil, wil sy graag skoolhou. “Ek is nie een vir ‘teaparties’, borduur en hekel nie,” sê sy met ‘n groot glimlag en ‘n vonkel in haar oë.



