Twee mans is oorlede na ‘n kop aan kop botsing die afgelope Saterdagmiddag (18 Desember) tussen twee voertuie op die R53 (Parys pad) 10km vanaf Potchefstroom.
Twee insittendes is in ‘n kritieke toestand en nog twee ander passassiers het ernstige beserings opgedoen in hierdie botsing tussen ‘n Hyundai en ‘n Nissan X-trail. Volgens ‘n ER24-verklaring het paramedici om 12:05 saam met die brandweer, provinsiale nooddienste en nog ‘n private diens op die toneel aangekom.
Die Hyundai is in die pad gevind en die X-trail langs die pad. Albei manlike bestuurders het noodlottige beserings opgedoen en is albei op die toneel dood verklaar.

Die voorste passasier van die Hyundai was vasgevang in die wrak in ‘n kritieke toestand. Twee manlike insittendes is agter in die Hyundai gevind met ernstige beserings. Hulle is na die hospitaal vervoer vir verdere sorg.

‘n 28-jarige vrou is ook in die pad gevind, 15 meter van die voertuig af, nadat sy uitgegooi is. Haar toestand is gestabiliseer voordat sy na Potchefstroom Provinsiale hospitaal gehaas is vir noodbehandeling. Die SAPD was ook op die toneel vir verdere ondersoeke.



