NewsNews

Inwoners keelvol vir riool in Miederpark

“Dit is nie net ‘n menseregtekwessie nie, maar omgewingsbesoedeling ook.”

Inwoners van Miederpark is raadop met ‘n rioolkrisis wat weer kop uitgesteek het na die afgelope paar dae se reënbuie.

Kyk die video hier van die riool wat in inwoners se erwe loop:

Dit was veral Sondagmiddag (2 Januarie) se storm met meer as 90mm se reën wat groot probleme vir inwoners in Louwstraat, Kockstraat, Kameeldoringstraat, sowel as Mimosalaan veroorsaak het. Dit is weens ‘n blokkasie in die hooflyn van die rioolstelsel in hierdie area.

Riool in Kockstraat.
Riool dam op in ‘n erf in Suidstraat

DA-raadslid in wyk 4, Johan Zerwick, noem dat dit skrikwekkend is hoeveel riool in inwoners se erwe lê. Hy het saam met Adélle Jerling, ‘n gemeenskapsverteenwoordiger van Wyk 2, huise in die area besoek. Volgens hom is die grootste krisis die gebrek aan hoë druk spuittoerusting om die rioollyne oop te spuit.

Van die riool in Mimosalaan. Foto: Verskaf.

“As daar bietjie van ‘n blokkasie is dan verstop dit vinnig. Die rioolplaas is ook oor kapasiteit en net ‘n bewys dat die infrastrukteer en rioolsisteem nie nog ekstra ontwikkeling sal kan hanteer nie,” sê hy.

Zerwick het vanoggend inwoners se huise besoek en vertel dat die stank van riool in die lug gehang het en dat water in party erwe ongeveer 30 sentimeter hoog is.

Suryna van Huyssteen se erf in Louwstraat is vol riool wat ‘n gesondheids en omgewingskwessie inhou. Foto: Verskaf

Hy is wel positief dat die nuwe uitvoerende burgemeester van die J.B. Marks stadsraad, Rdl. Gaba Ka Qhele, werk sal maak van die probleem en noem dat daar alreeds planne is om die probleem spoedig aan te spreek.

Jerling het ook benadruk dat die ongewone hoë reënval onteenseglik ‘n invloed het op die intuimeling van dienste maar dat inwoners die nuwe raad die geleentheid moet gun om te begin werk daaraan om dienslewerings probleme aan te spreek.

Inwoners het hulle misnoëe met die situasie in hul erwe gedeel, wat beide ‘n menseregte en gesondheidskwessie is.

Suryna van Huyssteen wat in Louwstraat woon, noem dat haar erf vol riool dryf wat haar honde siek kan maak en verskeie ander gesondheidsgevare inhou.

Ons het nog nie eers die reuk van begin Desember se reën weg nie en nou is daar weer ‘n probleem. Einde November verlede jaar het ons probleem begin. Ek het loodgieters van twee maatskappye uitgekry toe ons erf vol water was. Die loodgieters het vir ons genoem dat ons lyn oop is, maar dat die munisipale lyn verstop en vol is. Dit maak dan dat ons gullies nie dreineer nie,” noem Van Huyssteen.

Sy vertel ook dat sy met die nuwe uitvoerende burgemeester van die J.B. Marks stadsraad, Gaba Ka Qhele, kontak gemaak het en dat hy self na die rioolsituasie hierdie week kom kyk het.

“Die burgemeester het genoem dat hy die verskriklike stank ruik en dat hy daaraan sal werk,” noem sy.

“Dit is nie net ‘n menseregtekwessie nie, maar omgewingsbesoedeling ook,” noem sy raadop.

Ben Kok, wat in Mimosalaan bly, noem dat hierdie kwessie al jare aanhou en dat sy erf vol riool is.

“Daar is ‘n blokkasie op die hooflyn en nou loop die riool steeds volstoom in ons erf in. Dit is ‘n groot gesondheidrisiko,” beaam hy.

Jo-Adri Ashwell in Klerkstraat noem ook dat sy soortgelyke probleme ervaar na die baie reën.

Water het hierdie erf in Klerkstraat in ‘n klein “meer” verander.

“Dis seker so 5 of 6 jaar terug wat my loodgieter die munisipaliteit letterlik by die mangat moes ontmoet het om hul te wys die probleem lê nie in my of die buurman se erf nie (nadat die loodgieters alles in my erf al oor gegrawe het). Die laaste dae se reën het weer die doodslag toegedien,” noem sy oor die stank in haar erf.

Die Herald het navrae aan die J.B. Marks stadsraad gestuur maar teen die tyd van publikasie was daar nog nie terugvoer nie. Sodra daar amptelike terugvoer is sal dit aanlyn geplaas word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button