NewsNews

Potchefstromer formuleer beleid om maatskaplike werkers teen kliëntegeweld te beskerm

"Die fokus van die studie was om ‘n beleidsraamwerk te ontwikkel wat die beskerming van Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers kan bevorder."

Die tragiese skietdood van ‘n goeie vriend en maatskaplike werker, Deon Kondos, in 2013 het die Potchefstroomse maatskaplike werker, Lucé Pretorius, aangespoor om ‘n beleid te vorm wat maatskaplike werkers teen kliëntegeweld beveilig.

Die sanger, Zirk Bergh, het in op 14 Desember 2013 vir Kondos, sy eksvrou, Nicolette du Rand en haar tweede man, dr. Charl du Rand doodgeskiet by die SAVF kantoor in Potchefstroom. Dit was ‘n geweldige skok en het weer talle vrae ontluik rondom die veiligheid van maatskaplike werkers in Suid-Afrika.

“Deon Kondos was ‘n goeie vriend en kollega. Ons het saam gekuier, studeer, was saam op verskeie komitees, in leierskapsposisies en het saam aan handleidings en boeke gewerk. Die tragedie het ‘n besliste invloed gehad op die keuse van my onderwerp, maar dit was verseker nie die enigste motivering nie,” noem Pretorius.

Pretorius se voorgestelde beleid vorm deel van ‘n doktorale studie, “A policy framework to enhance the protection of South African social workers against client violence”, wat reeds afgehandel is, maar waar eksaminering steeds in die proses is. Sodoende is die bevindinge nogsteeds voorlopig.

Deon Kondos, ‘n maatsakplike werker en vriend van Lucé Pretorius, wat in Desember 2013, in ‘n skietvoorval oorlede is. Foto: Verskaf

Pretorius het hierdie doktoralestudie aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes Universiteit onder leiding van prof. Alida Herbst voltooi.

“Wanneer ‘n internasionale prentjie in ag geneem word, is dit opvallend dat daar tans geen formele maatreëls in Suid-Afrika is om maatskaplike werkers teen kliëntegeweld te beskerm nie. Daar is ook geen plek waar sulke gevalle aangeteken kan word nie, gevolglik is daar  min statistiek hieroor beskikbaar.”

Die fokus van die studie was om ‘n beleidsraamwerk te ontwikkel wat die beskerming van Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers kan bevorder,” verduidelik Pretorius, wat ‘n privaat praktyk in Potchefstroom het en veral fokus op terapie en assesserings van kinders en hul familie.

Lucé Pretorius het ‘n Phd studie aan die NWU voltooi wat maatskaplike werkers se veiligheid met ‘n beleid kan beskerm. Foto: Verskaf.

Sy het hierdie studie in vier fases verdeel om aan verskeie kernpunte te raak.

Fase een se fokus is om die aard van kliëntegeweld en die faktore wat tot hierdie verskynsel kan bydra, te verken.  Fase twee van die studie ondersoek die omvang van kliëntegeweld teen maatskaplike werkers in Suid-Afrika en kyk na die relatiewe risiko van Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers om kliëntegeweld te ervaar.  Fase drie se fokus is om relevante internasionale beleide, raamwerke, protokolle en riglyne te identifiseer wat die ontwikkeling van ‘n Suid-Afrikaanse beleidsraamwerk kan lei en fase vier bestaan uit die ontwikkeling van die konsep-beleidsraamwerk wat hersien en verfyn is.

Volgens haar was Kondos se skietdood nie noodwendig die enigste rede vir die studie nie, maar dat daar deur die jare ook talle gevalle in SA die saadjie vir die studie laat groei het.

“Die saadjie was reeds geplant in een van my voorgraadse modules “Praktykbestuur in Maatskaplike Werk” waar van die besprekingspunte gehandel het oor aggressiewe kliënte. Hierdie was die beginpunt van my vrae aangaande maatskaplike werkers se veiligheid. Ek het in 2012 begin werk en vinnig besef dat daar ‘n groot verskil tussen “teorie” en “praktyk” is en die konsep van kliëntegeweld het meer realisties geraak. Deon se moord het terwyl hy aan diens was aan die einde van 2013 die dringendheid van so ‘n studie beklemtoon.

“Nog ‘n geval was van ‘n maatskaplike werker in Rustenburg in 2015 tydens intervensie in ‘n huishoudelike geweld saak. So ook in 2016 in die Malamulede area en 2017 in Empangeni. Hierdie sake het beperkte media aandag gekry en daar was selfs ander wat glad nie in die media genoem was nie. Maatskaplike werkers het al meer hul misnoeë op sosiale media platvorms begin uitspreek en uiteindelik was dit vir my net ‘n logiese stap om voort te gaan met navorsing in hierdie veld,” verduidelik sy.

Pretorius noem ook dat hierdie studie nie net ‘n soos sommige doktorale studies op ‘n rak moet lê nie, maar in praktyk gebruik moet word.

 “Die doel is om die uiteindelike konsep-beleidsraamwerk voor te lê aan belanghebbendes in die maatskaplike werk professie en dat hierdie individue dan dit verder ontwikkel tot formele beleide en wetgewing wat nasionaal implementeerbaar kan wees. In sy huidige vorm, kan die konsep-beleidsraamwerk reeds in Departemente en Organisasies gebruik word en daar is ruimte vir verandering wat by elke Departement of Organisasie se unieke identiteit kan pas.”

Aggressiewe optrede teenoor maatskaplike werkers is ongelukig ook iets wat deur die jare deur die publiek genormaliseer word in die sin dat maatskaplike werkers “weet waarvoor hulle hulself inlaat”. Pretorius noem dat daardie persepsie juis verander moet word en dat die beskerming uiters belangrik is om werk een honderd persent uit te voer. Sy vertel dat sy ook al ‘n slagoffer van geweld in haar beroep was.

 “As ‘n jong, onervare maatskaplike werker het ek meer gereeld fisiese geweld ervaar waar kliënte met tye my met bakstene gegooi het of met verskillende voorwerpe op die perseel rondgejaag het. Eiendom soos voertuie was beskadig en verbale geweld was ‘n daaglikse belewenis. Ek onthou ‘n spesifieke dag waar ‘n kliënt in die middel van ‘n groot winkelsentrum op my begin skree het en haar opinie uitbasuin het. In my huidige werk konteks is ek meer beskermend en is die geweld minder, maar daar is steeds insidente van emosionele geweld – of kliënte van jare terug wat aanlyn boodskappe stuur,” noem sy.

Die studie het ook ‘n goeie aanduiding gegee rondom die redes vir geweld teen maatskaplike werkers:

  • Suid-Afrika het ‘n vooropgestelde geskiedenis van geweld en swak ekonomiese sosio-ekonomiese samelewings faktore;
  • Die persepsie / stigma van maatskaplike werk in die samelewing veroorsaak dat ander beroepe en kliënte nie erkenning of respek aan professionele maatskaplike werkers gee nie;
  • Nie-ondersteunende werksomgewing, ‘n gebrek aan hulpbronne en ondersteuning van maatskaplike werkgewers;
  • Kliënte kan gefrustreerd en magteloos voel binne hul omstandighede of binne die maatskaplike stelsel;
  • Alle kliënte is nie vrywillig ingeskakel by dienslewering nie;
  • Kliënte verstaan nie altyd die maatskaplike werkers se rol of die saak-prosedures nie;
  • Kliënte het soms nie die vermoë / vaardighede om konflik konstruktief te hanteer nie;
  • Maatskaplike werkers word uiteindelik bemiddelaars tussen die sisteem en die kliënt en word as gevolg daarvan die teiken vir die kliënt se emosies.
  • Die aard van sake veroorsaak dat maatskaplike werkers betrokke raak in ‘n magspel met kliënte;
  • Maatskaplike werkers erken kliënte se emosies empaties tot so ‘n mate dat hulle dikwels kliëntegeweld toelaat;
  • Onervare werkers het dikwels nie vaardighede in konflikbestuur nie en eskaleer kliëntegeweld onbewustelik;
  • Maatskaplike werkers word as “sagter” beskou en is dan meer geneig om teikens vir kliëntegeweld te wees.

Uit hierdie redes is dit oogeenlopend dat daar verskeie redes is vir die geweld teenoor maatskaplike werers. Pretorius glo dat daar ‘n hele paar maniere is hoe hierdie beleid maatskaplike werkers kan beveilig.

“Die konsep-beleid bestaan uit drie programme en verskeie subprogramme. Program een se fokus is om die veiligheid van maatskaplike werkers ‘n nasionale prioriteit te maak, deur ‘n werkende rapportering-sisteem te skep en gevolge vir diegene wat hulself aan kliëntegeweld skuldig maak, daar te stel.

Program twee fokus daarop om ‘n kultuur van veiligheid binne die werksomgewing te skep deur ondermeer ‘n veiligheidskomitee daar te stel, sinvolle stelsels in plek te stel en post-insident prosedures te skep. Program drie fokus op die ontwikkeling en implementering van maatreëls om maatskaplike werkers veilig te hou in die kantoor, tydens onderhoude, besoeke of wanneer daar gereis word. Al die programme is prakties uiteen gesit, daar is ook addendums met voorgestelde vraelyste, vorms en kleurvolle plakkate,” verduidelik sy.

“Meer kwantitatiewe en kwalitatiewe plaaslike navorsing in maatskaplike werk, en tussen dissiplines, sal nie net bydra tot ‘n beter begrip van die verskynsel nie, maar sal ook dien as die grondslag vir ‘n meer suksesvolle intervensie,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button