NewsNews

’n Classic Clash valskermsprong vir Volkie-onnie

Volkies is almal in rep en roer oor hierdie spesiale gebeurtenis en niemand kan wag om te sien hoe Pieters vir die eerste keer met ‘n valskerm spring nie

‘n Paar minute voor komende Saterdag, 28 Mei se Classic Clash eerstespan rugbywedstryd tussen Volkies en Gimmies, gaan ‘n bekende Volkie letterlik soos ‘n arend sweef.

Welma Pieters, een van Volkies se geliefde onderwyseresse en hokkieafrigter, gaan met ‘n valskerm uit ‘n vliegtuig spring en op Volkies se A-veld land.

Die Volkie-onderwyseres, Welma Pieters, gaan Saterdag met ‘n valskerm uit ‘n vliegtuig spring om fondse vir Volkies se hokkie-astrobaan in te samel. Sy gaan ongeveer 13:00 net voor die eerstespan rugbywedstryd tussen Volkies en Gimmies op die veld land. Foto: Wouter Pienaar

Dit alles om fondse vir Volkies se hokkie-astroprojek in te samel en ook ‘n ekstra tikkie gees op die dag te bring. Dit is juis Volkies se eeufeesvieringe en ‘n gepaste manier om vir ‘n hoogtepunt te sorg.

Volkies is almal in rep en roer oor hierdie spesiale gebeurtenis en niemand kan wag om te sien hoe Pieters vir die eerste keer met ‘n valskerm spring nie.

“Ek is vreeslik op my senuwees. Ek gaan darem nie alleen spring nie en dit gaan ‘n tandemsprong wees.
“Ek het in die begin ingestem om dit te doen en het nie gedink dat dit regtig gaan gebeur nie. Nou moet ek dit doen,” vertel Pieters, wat nou daad by die woord voeg.

Welma Pieters gaan op Volkies se A-veld land na haar valskermsprong.

Vir haar is die sprong van 11 000 voet (3.5 kilometer) ook ‘n manier om terug te gee aan Volkies aangesien sy en haar man, Stephan Pieters, al ‘n lang pad saam met die skool stap.

Stephan is al sedert 1989 ‘n onderwyser by Volkies en is ook ‘n oud-Volkie. Al drie hulle kinders is ook oud-Volkies en het vir die skool hokkie gespeel.
“Dit is vir my ‘n manier om terug te gee en ook ons gesin se legacy hier by Volkskool sterker te kan maak,” noem Pieters.

Volkies het sowat drie jaar gelede met die Astrobaan-projek begin met die doel om geld in te samel vir ‘n splinternuwe astrobaan vir hulle hokkiespelers. Al is die teiken van R 500 000 nog nie behaal nie, gaan Pieters steeds spring.

“Die kultuur by Volkie-hokkie het baie verander en ‘n mens kan dit met die resultate sien. Hokkie groei hier by Volkies,” noem Volkies se hokkie-organiseerder, Marisca Badenhorst.

Badenhorst noem ook dat donateurs vir die hokkie-astro hulle name op spesiale donateursborde kan kry indien hulle R500 of meer skenk.

“Saterdag gaan ons ook die veld in blokke opdeel. Toeskouers kan blokke koop op die dag. As Welma op ‘n sekere blok land, dan kan iemand ‘n kontantprys wen,” vertel Badenhorst.

Saterdag gaan Welma Pieters behoorlik groot gaan om Volkies se Astro-droom te verwesenlik – eerstens met haar kop in die wolke en tweedens met haar voete op Volkie grond.

Lesers kan tot Volkies se Astro-projek bydra in die volgende rekening:

Hoër Volkskool Potchefstroom
FNB
Rekeningnommer: 6279 2644 083
Takkode: 250655
Verwysing: ASTRO + naam van donateur

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button