NewsNews

Een valskermsprong nader aan Volkies se Astrodroom

“Dit was verskriklik. Dit was baie erg. Ek sal dit nie weer doen nie, maar ek is bly ek het dit gedoen."

Alle oë was die afgelope Saterdag, 28 Mei net voor die Volkie-Gimmie Classic Clash rugbywedstryd in die lug gerig.

Daar was groot afwagting vir die koms van Welma Pieters, ‘n Volkie-onderyseres, wat haar debuut valskermsprong aangedurf het om fondse vir Volkies hokkie se Astroprojek in te samel.

Foto’s: Maritha van Zyl

‘n Luide applous het vir Pieters na afloop van haar tandemsprong gegroet toe sy nes sy belowe het, met ‘n valskerm op Volkies se rugbyveld geland het. Haar leerders het haar omhels en met sjokolade en blomme gelukgewens.

Al was Pieters heeltemal uit haar gemaksone het sy gewys dat sy daad by die woord sit om Volkies se groot Astro-droom te laat groei.

Kyk die video hier van die valskermsprong (Video: Johannesburg Skydiving Club)

“Dit was verskriklik. Dit was baie erg. Ek sal dit nie weer doen nie, maar ek is bly ek het dit gedoen. Dit was beslis ‘n ervaring en iets wat ek het om te berê veral omdat daar ‘n video is,” noem sy na die tyd.

Welma Pieters is bly en verlig na haar sprong. Foto: Wouter Pienaar

Volgens Pieters het sy gedink dat die rit in die vliegtuig na bo haar baie sou affekteer omdat sy maklik bewegingsiekte kry.

“Ons het so 40 minute gevat om te klim tot bo en toe so net bo 10 000 voet gespring. Die instrukteurs by Johannesburg Skydiving Club het dit baie maklik vir my gemaak. Voor ek weer sien was ek uit by daardie vliegtuig,” vertel sy.

“Die vryval-gedeelte was vir my okay. ‘n Mens beweeg vinnig en ek het agtergekom hoe vinnig my wange wapper. Dit was vir my erg toe die valskerm oopmaak, omdat dit my rondgerruk het. Vandat die valskerm oopgemaak het, het ek baie min my oë oopgemaak en net agtertoe gelê. Dit was toe ek erge bewegingsiekte begin ervaar het.”

Pieters het beter begin voel toe sy haar skool sien wat haar  op die spreekwoordelike rooitapyt inwag .

“Toe ek eers die skool begin sien was dit vir my baie lekker. Mense het vir my gesê ons het naby oor die eerste dakke beweeg, maar ek het nooit getwyfel dat ons dit nie sou maak nie. Dit was baie professioneel gedoen. Ek is  wel dankbaar dit is verby,” lag Pieters.

Hierdie valskermsprong was maar net een van die baie manière om bewustheid te skep rondom Volkies se hokkie-astro projek en Pieters glo dat haar sprong beslis meer mense van Volkies se hokkie astrodroom bewus gemaak het.

“Ons fondse kom in, al het ons nog nie ons R 500 000-doel bereik nie. Ek gaan aanhou om mense te vra om by te dra tot hierdie projek. As ek bereid was om uit ‘n vliegtuig te spring en iets te doen waarvoor ek baie bang was dan kan dit ander mense ook aanspoor om te gee,” sê sy.

Volgens Pieters gaan elke bydrae, maak nie saak hoe klein, ‘n verskil maak om die Astro-projek te laat realiseer.

“Dis nou ‘n geval dat elke bietjie ons nader aan ons teiken bring en ons droom moontlik maak vir die kinders. Ek dink die kinders verdien dit.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button