Die Vereniging vir Welstand in Skole (VWS) het Saterdag, 4 Junie hulle jaarlikse werkswinkel by 2 Owls Guesthouse aangebied. Onderwyseresse, ouers en belangstellendes in die gemeenskap het die byeenkoms bygewoon wat op verskillende temas in die onderwys gefokus het.
Van die aanbiedinge het gehandel oor hoe om wiskunde prakties pret te maak, balans as die hoeksteen vir motivering, asook ‘n Lego Six Bricks werkswinkel en ‘n Thjoko Verf-verfinspirasiesessie.
Die Vereniging vir Welstand in Skole is ‘n nie-winsgewende organisasie wat eenmaal per jaar geleentheid skep vir onderwyseresse om professionele ontwikkeling punte te verwerf. Die inisiatief het sowat vyf jaar gelede danksy dr. Ona Janse van Rensburg ontstaan.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die komitee bestaan verder uit Jeannine Keating van die NWU en onderwyseresse van verskillende skole. In Potchefstroom is die staatmakers Angie Pentz en Amanda Steyn en Bonolo Mogatshua van ‘n Laerskool in Orkney.
Tydens elke byeenkoms dui onderwyseresse aan wat hulle dringendste behoeftes ten opsigte van die onderrig, leer en welstand van leerders is.
Die komitee reageer dan daarop en kry sprekers volgens behoefte vir die volgende byeenkomste. Die aanbiedings akkommodeer Afrikaans- en Engelssprekende persone.
Die Engelse naam van die organisasie is AWS of Association for Well-being in Schools.
Navrae kan gerig word aan dr. Ona Janse van Rensburg by 082 374 6027 of stuur ‘n e-pos aan onajvr@gmail.com.














