
Totius Voortrekkers en Mooirivier Staatmakers het vandag (Donderdag, 16 Junie) saam met die Potchefstroomse Kultuurnetwerk en AfriForum ‘n spesiale seremonie by die Konsentrasiekamp Kerkhof in Baillie Park gelei.
Daar was ongeveer 40 mense wat die ysige koue trotseer het ter herinnering aan al die slagoffers wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe gesterf het.

16 Junie 1900 is ‘n geskiedkundige dag in Suid-Afrikaanse geskiedenis, aangesien dit die dag was, wat Lord Frederick Roberts die verskroeide aarde beleid aangekondig het. Buiten die feit dat die boere se lande en kudde vernietig is, is die verdere gevolg dat konsentrasiekampe vir vroue en kinders opgerig is.
Konsentrasiekampdag word juis sodoende ook op 16 Junie herdenk.

Op Jeugdag word die tragiese dag (16 Junie, 1976) herdenk toe ‘n groot groep kinders tydens ‘n opstand in Soweto deur die polisie doodgeskiet is. Saam met Jeugdag word die lewens van die talle kinders wat in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog gesterf het, ook herdenk.
Die dag is met skriflesing en gebed geopen sowel as ‘n oomblik van stilte vir al die slagoffers van die konsentrasiekampe. Daar was ook ‘n historiese storievertelling van Japie Greyling wat deur AfriForum-lede opgevoer is. Die Totius Voortrekkers, Mooirivier Staatmakers, AfriForum Potchefstroom-tak, AfriForum Pukke Jeug-tak en lede van die publiek het daarna kranse en blomme by die gedenkteken gaan neerlê.
Die verrigtinge is met warm koffie en beskuit afgesluit.

Danell de Wet, museumhistorikus van Totiushuismuseum en komiteelid van Heritage Potchefstroom Erfenis, bedank ook graag die volgende persone en instansies:
*NG Potchefstroom-Oos gemeente vir die gebruik van die kerkgronde en fasiliteite.
*Totius Voortrekkers en die Mooirivier Staatmakers vir die vlagpresentering en erewag vir die Kranslegging.
* AfriForum-lede vir hul toneelspel.
*AfriForum Pukke Jeug vir hul bydraes.
* Elke persoon wat dit bygewoon het – baie dankie dat julle saam met ons onthou het.
Vir meer inligting oor die Totius Voortrekkers kan Jakkie Casaleggio by 0828219091 gekontak word.




