
“Dit het so vinnig gebeur. Voordat ek kon besef wat aangaan, was dit klaar te laat.”
Dit is die woorde van ‘n NWU student wat onlangs die slagoffer van ‘n rooftog was.
In slegs die afgelope maand was daar minstens drie rooftogte en een ontvoering in die Bult-area.

Die student wat ontvoer is, het vrywillig in die voertuig buite ‘n kuierplek geklim nadat die verdagtes vir hom ‘n saamrygeleentheid aangebied het.
Hy is later deur die drie mans beroof en op die pad na Klerksdorp afgelaai. ‘n Ander student is Saterdagoggend in Thabo Mbekirylaan beroof. Sy was te voet toe sy voorgekeer en van haar handsak beroof is.
Die Cachet Park City Improvement District (CID) doen ‘n beroep op alle studente om meer veiligheidsbewus te wees. Hulle handhaaf sedert 2019 die beveiliging van die groter Bult-area wat strek vanaf Gerrit Dekkerstraat tot by die Mooimed Hospitaal oor ‘n area van sowat drie vierkante kilometer.

Daar is meer as 200 CCTV kameras in hierdie area wat 24/7 in samewerking met Mooirivier Beskerming gemonitor word. Indien iemand beroof of aangeval is, word daar aanbeveel om net na die voorval na die naaste kamera te hardloop en die aandag te trek van die span wat die kameras monitor.
Die algemene bestuurder van CID, Johan Naudé, meen dat hulle met “ongeveer 40 voorvalle per maand” werk, wat onder meer motorongelukke, bakleiery en rooftogte insluit. Die CID gebruik “geo-tracking” om tred te hou met alle voorvalle wat aangemeld word. Daarom word studente en ander Bult-inwoners gemaan om dit so gou as moontlik aan te meld.
Slagoffers kan ook enige tyd van die dag by die CID-gebou in Steve Bikostraat by Cachetpark aanklop om ‘n voorval aan te meld of om hulp te verkry. Daar is 24/7 wagte met ‘n reaksievoertuig aan diens.
Om hierdie voorvalle te bekamp, word studente gevra om vreemde voertuie te vermy deur eerder vooraf betroubare saamrygeleenthede te reël en om nie te voet huis toe te gaan nie.
Verder kan enigiemand Mooirivier Beskerming se noodnommer by 073 473 2803, kontak.