
Riool stroom sedert Woensdag, 22 Junie op die perseel van Varsity Village-studentebehuising in Dwarsstraat en het die afgelope week in ‘n stinkende gemors ontaard.
Foto’s: Wouter Pienaar
Riool loop op die grasperke en teen die wooneenhede van die studente verby, wat dit ondraaglik maak om op die perseel te loop en daar te woon.
Dit is ook ‘n gesondheidsrisiko.

Volgens die opsigter van Varsity Village in Potchefstroom, Bernard Labuschagne, het trokke al sowat 42 000 liter riool uitgepomp om die probleem te verlig. Steeds lê die riool in groot hoeveelhede op die terrein.
“Daar is meer as 450 studente wat so tussen die riool moet lewe. Dit is nie reg nie. Die munisipaliteit het genoem dat ‘n kontrakteur verantwoordelik is vir die werk,” noem hy.
Kyk die video hier:
Chantelle van der Merwe, ‘n drywer vir Varsity Village, noem dat hulle moeg is om vir kontrakteurs te wag terwyl die probleem net elke dag erger word.
“Studente kan nie so leef nie. Die krag het ook afgegaan sedert Saterdag en sodoende kon studente ook nie hulle klasse aanlyn voltooi of opdragte ingee nie. Die riool loop tot in die kamers in. Hoekom moet daar kontrakteurs aangestel word en waar is die munisipale trokke? sê sy.
* Die Herald het by die J.B. Marks munisipaliteit oor die probleem navraag gedoen, maar teen druktyd geen terugvoer gekry nie.