Die stuk grond (Erf 2110) in Miederpark wat vir die beplande Miederpark Maatskaplike Behuisingsontwikkelingsprojek beoog word, word steeds skoongemaak.
Inwoners en geaffekteerde partye wat teen hierdie beplande behuisingsprojek appelleer, se kommer is dat inheemse plante en bome uitgeroei sal word en dit die omgewing in hierdie groen area sal affekteer.
Hierdie skoonmaakproses word uitgevoer terwyl die appèlproses teen die goedgekeurde omgewingsimpakstudie (OIS) nog hangend is.
’n Kommitee van die Noordwes Provinsiale Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme is nog besig om die appèl aan te spreek.
Die JB Marks Munisipaliteit het al in die begin van 2020 met hersonering begin met die oog op die beplande lae-inkomste behuisingsprojek en gepaardgaande ontwikkeling.
Volgens die JB Marks Munisipaliteit wat die projek behartig, word die stuk grond skoongemaak as deel van die roetine instandhoudingsprogram van die Parke-afdeling.
Die hoofdoel van hierdie projek volgens JB Marks se woordvoerder, Jeanette Tshite, is om die dringende behuisingstekort aan te spreek.
“Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit het ‘n stuk grond (Erf 2110) in Miederpark vir ‘n Maatskaplike Behuisingsontwikkelingsprojek geïdentifiseer en wyk nie van hierdie plan af nie.
Die projek sal ontvou as ‘n manier om die uitdaging van ‘n behuisingstekort wat die land in die gesig staar, aan te spreek.
Die skoonmaak van die area is deel van roetine-instandhoudingsprogram wat deur die Parke-afdeling van die munisipaliteit uitgevoer word.”
“Die Noordwes Provinsiale Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme is tans besig om die omgewingsimpakstudie-appèl aan te spreek en daarom sal die JB Marks se Plaaslike Raad daardie proses respekteer en die nodige geleentheid daaraan gee om gefinaliseer te word,” het Tshite bevestig.




