Hoër Volkskool Potchefstroom se o.15A krieketspan was weer eens op hulle stukke met ‘n paar puik vertonings tydens die Uplands Krieketfees in Witrivier.
Volkies se o.15A’s het Maandag, 4 Julie hulle kriekettoernooi by Uplands College met ‘n fantastiese 125 lopie oorwinning teen Trinity House van Johannesburg begin.
Volkies maak 251/6 met Louis van Wyk (113 lopies) en Themba Sontjane (73 lopies) wat met hulle beurte uitstaan. Nolan Roets neem ook 3/9 in vyf beurte om Trinity House vir slegs 126 uit te boender.
Volkies het die volgende dag, Dinsdag, 5 Julie op hulle oorwinning gebou en vir Hoërskool Centurion laat les opsê met ‘n allemintige 234-lopie oorwinning. Ruan Smit moker ‘n 100-tal en Eduan van der Merwe ‘n goeie 50-tal in die groottotaal van 277/9.

Centurion se kolwers word met hulle stert na die kleedkamers gestuur en is almal uit vir 43. Dit is danksy die draaiboulwerk van Olefa Padi (3 paaltjies) en Nolan Roets (2 paaltjies).
Volkies hak wel vas teen Helpmekaar Kollege en verloor daardie wedstryd met 108 lopies.
Volkies se laaste uitdaging is ‘n stryd teen die gerekende Menlopark van Pretoria. In hierdie T20-wedstryd is Volkies baas met 19 lopies. Dit is danksy ‘n veelsydige vertoning van Theunis Nel wat 30 lopies slaan en ook 3 paaltjies neem. Handré de Beer dra ook ‘n belangrike 26 lopies by in die wentotaal van 130/8.




