Luister die artikel hier:
‘n Voormalige werknemer van ‘n plaaslike hoender-abattoir, Crest Choice Chicken, beweer dat hierdie maatskappy se besigheidspraktyke ‘n negatiewe impak op die omgewing het.
Hierdie voormalige werknemer wat verkies om anoniem te bly, het video en foto’s wat wys hoe werknemers van Crest Choice Chicken hoenderafval in ‘n nabygeleë veld stort.

Mnr. Bill Liebenberg, die besturende direkteur van Crest Choice Chicken, bevestig dat hoenderafval in April 2022 gestort is. Hy verduidelik dat dit slegs die geval was omdat daar drastiese stappe geneem moes word weens die ineenstorting van die verwerkingsaanleg se twee kookpotte.
“Gedurende April vanjaar was daar ‘n ineenstorting weens die skielike swaar beurtkrag wat geïmplementeer was. Dit het gelei tot ‘n opeenhoping van die afvalproduk wat weens gesondheidsredes weggedoen moes word,” verduidelik Liebenberg.
“Ons is in kennis gestel dat die produk as nie-aansteeklike dierekarkasse beskou word. Gevolglik het ons besluit om die oorskot te begrawe in ooreenstemming met hierdie advies en ons was nie bewus daarvan dat hierdie optrede tot so ‘n situasie sou lei en ons soveel angs sou veroorsaak nie.
Ons hou vol dat hierdie optrede redelik was in hierdie buitengewone omstandighede van konstante beurtkrag. Dit was die enigste veilige opsie om van die materiaal weg te gooi aangesien dit nie by die munisipale stortingsterrein weggedoen kon word nie,” het Liebenberg verduidelik.
Video: Verskaf
Crest Choice Chicken sê dat hulle ‘n korrektiewe aksieplan geïmplementeer het sedert die berugte afvalstorting in April. In die afgelope twee maande het daar nog nie enige probleme in verband met beurtkrag plaasgevind nie.
“Sedertdien het ons daarin geslaag om al die oorblyfsels van die abattoir te verwerk aangesien die gebeurlikheidsplanne wat ingestel is in afwagting van so ‘n gebeurtenis, baie suksesvol was.
Dit was self so tot en met fase-6 beurtkrag soos ons pas ervaar het. Ons het ook ‘n swaarbrandstof-olieketel gekoop om in plaas van die elektrode-ketel tydens beurtkrag te gebruik, wat die verwoestende gevolge van hoë fases beurtkrag sal versag,” meen Liebenberg.

Hulle sal die Departement van Landbou en Departement van Omgewingsake onmiddellik in kennis stel indien enige kwessies ondervind word wat kan lei tot ‘n agterstand wat onhanteerbaar raak.
“Ons is ook verbind tot verantwoordelike sakepraktyke en het ‘n onafhanklike omgewingsverslag laat doen wat die terrein waar die storting plaasgevind het, sal evalueer. Ons beoog ook om die verslag aan die Departement en enigiemand anders bekend te maak aan wie dit mag aangaan,” voer Liebenberg aan.
Die afgedankte werknemer sê dat hy sy werk verloor het omdat hy as fluitjieblaser opgetree het oor die onhigiëniese praktyk.
Sy regsverteenwoordiger staaf ook dat hy onregmatig afgedank is weens die Wet op Beskermde Bekendmakings (no.26 van 2000).
Die Wet verskaf prosedures ingevolge waarvan enige werknemer inligting mag openbaar wat verband hou met ‘n oortreding of ‘n wanpraktyk in die werkplek deur sy of haar werkgewer of medewerknemers. Die Wet maak voorsiening vir die beskerming van ‘n werknemer, wat ‘n openbaarmaking gemaak het in ooreenstemming met die prosedures waarvoor die Wet voorsiening maak, teen enige vergelding as gevolg van so ‘n openbaarmaking.
“Ek het so twee maande terug foto’s begin neem. Volgens Crest kon ek nie foto’s en videos neem en aan ‘n derde party stuur nie. Ek is na ‘n dissiplinêre verhoor ontslaan,” noem hy.
“Ek het besluit om vir Carte Blanche en nou die plaaslike media oor die situasie te kontak omdat dit in openbare belang is. Ek het die Groen Skerpioene ook ingelig oor die situasie,” noem hy.
Die Herald het bevestig dat die Noordwes Departement van Omgewingsake tans bewus is van die kwessie by Crest Choice Chicken en dat daar ondersoek ingestel word.
Volgens hierdie werknemer is die verwerkingsaanleg waar die hoenderafval verwerk word ‘n groot kommerpunt en voldoen dit nie aan sekere spesifikasies nie. Die praktyke is ook skynbaar teenstrydig met die Wet op Omgewingsbestuur.
Liebenberg noem dat daar gereeld inspeksies by Crest Choice Chicken is.
“Daar is baie streng gesondheids- en omgewingsregulasies wat nagekom moet word en ons kry gereelde inspeksies van drie staatsdepartemente, ons het ook daagliks onafhanklike vleisinspekteurs op die perseel wat beide die verwerkingsaanleg en die Abattoir monitor en bevindinge aan die relevante departement weergee,” voer Liebenberg aan.
Liebenberg argumenteer dat die storting van afval nie so groot impak op die kwaliteit van die water sal hê nie aangesien die perseel meer as 500m van die Vaalrivier en 1km vanaf die Mooirivier is.
“Benewens die verwerking van die afval is daar geen ander haalbare oplossing nie.
Die enigste ander opsie is om die afval ondergronds te begrawe waar dit mettertyd sal ontbind en komposteer word aangesien dit ‘n organiese materiaal is en dus nie skade aan die omgewing kan veroorsaak nie,” sê hy.
Die aktualiteitsprogram Carte Blanche het op Sondag, 17 Julie ‘n insetsel oor Crest Choice Chicken se beweerde storting van hoenderafval uitgesaai.
Daar was ook die Sondagoggend ‘n saak in die hooggeregshof oor die uitsending van hierdie insetsel, maar die hof het besluit dat Carte Blanche die insetsel wel mag wys aangesien dit in openbare belang is.
Volgens Liebenberg het Crest Choice Chicken die hooggeregshof genader om ‘n geleentheid te kry om eers die onafhanklike omgewingsverslag te kan bekom en dan bekend te maak.




