Luister die artikel hier:
Die DA het ‘n klagte van bedrog by die Valke ingedien oor ’n vervalste dokument wat gebruik was om die JB Marks Raad te oortuig dat die stadsraad se 2022/23-begroting befonds en volhoubaar was.
Die DA koukusleier in die munisipaliteit, Hans-Jurie Moolman, het genoem dat hy bevestiging van die provinsiale tesourie ontvang het dat dit ‘n vervalste dokument was. By die begrotingsrede op Donderdag, 30 Junie, was daar twee briewe ter sprake. Op die een brief is die bewoording slegs by een sin verander dat die begroting befonds en volhoubaar is. Dit terwyl die res van die dokument ‘n ander prentjie skets oor die onvolhoubaarheid van die begroting.
Volgens DA raadslid, Chris Hattingh is daar herhaaldelik beswaar gemaak teen die begroting se onvolhoubaarheid. Die DA het ook genoem dat hulle vereis het dat besuinigingmaatreëls ingestel word, dat die kapitaal uitgawe in die begroting geprioritiseer en verminder word en dat die inkomstestrome van die munisipaliteit beskerm en verbeter word.
Die DA het ook toe uit ‘n Provinsiale Tesourie-begrotingsbeoordelingsverslag aangehaal wat die DA se standpunt bevestig het dat die begroting nie net onbefonds en nie-volhoubaar was nie, maar dat daar ernstige ander tekortkominge in die begroting was, insluitend dat die munisipaliteit “kapitaalbesteding moet verminder en verseker dat dit beperk is tot beskikbare inkomste”, en “moet ‘n begrotingsbefondsingsplan ontwikkel” en “moet ‘n streng kontantvloeiplan ontwikkel en implementeer”.
Volgens Hattingh het die DA verder daarop gewys dat die Inkomstebegroting ‘n opgeblase 99,6% invorderingskoers aandui terwyl die afgelope en huidige jaar se invorderingskoers gemiddeld 87% is.
“Tydens die debat het die ANC ten sterkste ontken dat die begroting nie gefinansier is nie. Dit is aangevuur deur die bekendstelling van ‘n vervalste Tesourie-dokument waar twee woorde van die oorspronklike verander is, wat die woorde “onbefonds” en “onvolhoubaar” vervang met “befonds” en “volhoubaar”.
“Die ANC het toe sy getalle, aangevul met laat en verdagte steun van die EFF, wat hul standpunt oor die begroting omgekeer het, gebruik om dit goed te keur,” noem Hattingh in ‘n persverklaring.
“Die begroting kan beskou word as ‘n belediging vir die JB Marks-gemeenskap wat die pad na nog ‘n vermorste jaar baan. Meer van die ineenstorting en agteruitgang van dienste kan verwag word,” voer Hattingh verder.
*Die Herald het navrae aan die JB Marks Munisipaliteit gestuur maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.




