Spoedhobbels moontlik in die pyplyn vir MC Roode-rylaan
Die JB Marks Munisipaliteit het bevestig dat daar voorlopig gekyk word om ook spoedhobbels in MC Roode-rylaan in die toekoms te installeer.

Die JB Marks Munisipaliteit het genoem dat daar voorlopig gekyk word om ook spoedhobbels in MC Roode-rylaan en ander besige paaie in die toekoms te installeer.
Dit is juis om die veiligheid van HTS Potchefstroom se leerders op hierdie pad te verbeter en die risiko van ongelukke te verminder. Die voetoorgang wat honderde leerders daagliks gebruik, is die afgelope paar jaar ‘n groot risiko veral toe die stopteken verwyder was.
Die Herald het verlede week berig dat die munisipaliteit alreeds stoptekens aangebring het by die ingang van HTS Potchefstroom op hierdie pad.
Die hoofrede hiervoor is sodat motoriste spoed kan verminder voordat hulle die kruising bereik, wat skoolkinders daagliks gebruik.
“Na aanleiding van ernstige oorwegings rakende verkeersvolumes en die opvoedkundige sonering langs die MC Roode-pad is daar ‘n besluit geneem om die stopteken weer te installeer. Dit is een van die maniere om veiligheid van leerders en padverbruikers te verbeter,” het Jeanette Tshite, woordvoerder van die JB Marks Munisipaliteit, genoem.
Volgens die munisipaliteit is gemeenskapsveiligheid van uiterse belang, veral as dit by skoolleerders kom. Sodoende sal daar ook nog meer padtekens aangebring word waar benodig word om veiligheid te verseker.
“Vervoerbeamptes in samewerking met die Departement van Tegnies Dienste sal asseserings doen wat uiteindelik sal verseker dat ‘n behoorlike werk ten opsigte van die spoedhobbels uitgevoer word,” noem Tshite verder.