OPVOLG: Vyf skoolkinders oorlede en vier ernstig beseer na vragmotorongeluk
Die kinders is glo tussen die ouderdom van 7-11 jaar oud.
Vyf kinders het vanmiddag (Donderdag, 18 Augustus) hulle lewens verloor na ‘n vragmotor omstreeks 14:00 deur Vyfhoek Laerskool se skoolheining gery het en in die parkeerarea van die skool stilgehou het.
Die kinders wat in die ongeluk oorlede is, is glo tussen die ouderdom van 7 en 11 jaar oud.
Die vragmotor was op pad in die Johannesburg-rigting toe ‘n wiel na bewering gebars het en hy beheer verloor het. Die vragmotor het glo oor die middelman in die pad beweeg en deur die skoolheining gery voordat die vragmotor tot stilstand gekom het.
Volgens ER24 woorvoerder, Russel Meiring het vier ander kinders ook ernstige beserings opgedoen. Die bestuurder van die vragmotor het geen beserings opgedoen nie.
“Met paramedici se aankoms is daar drie kinders gevind wat onder die vragmotor gelê het terwyl verskeie pasiente rondom die vragmotor was. Paramedici het die pasiënte vinnig beoordeel en gevind dat vier kinders geen tekens van lewe getoon het nie. Ongelukkig kon niks vir hulle gedoen word nie, en hulle is later op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.
Drie ander kinders was in ‘n kritieke toestand, terwyl twee ander ernstige beserings opgedoen het. Nooddienste het pasiënte behandel en hulle van gevorderde lewensondersteuning voorsien. Een van die drie kinders wat in ‘n kritieke toestand is, is kort daarna oorlede.
Nadat hulle behandel is, het paramedici die drie ander kinders na ‘n nabygeleë hospitaal vir dringende sorg vervoer.
NW polisiewoordvoerder, Kapt. Aafje Botma, het bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag teen die vragmotorbestuurder oopgemaak is.
Plaaslike owerhede is nog op die toneel om ondersoek in te stel.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/112032/vyf-dood-na-gru-ongeluk-by-laerskool/




