Ma se gestremde seun (21) benodig gemeenskap se hulp
Adri Labuschagne se 21-jarige seun, Shaun Beyers, is met verstandelike en fisieke gestremdhede gebore.
‘n Potchefstroomse ma het die gemeenskap se hulp nodig sodat haar gestremde seun volgende maand ‘n belangrike operasie kan ondergaan.
Adri Labuschagne se 21-jarige seun, Shaun Beyers, is met verstandelike en fisieke gestremdhede gebore wat sy onderlyf verlam het. Sy brein is volgens sy ma soos die van ‘n 8-jarige en hy dra ook nog volwasse doeke.
Shaun moet 21 September ‘n operasie in Bloemfontein ondergaan. Dit is sy derde operasie nadat hy ook in 2015 geopereer is. Volgens Adri het hulle gesin ‘n finansiële knou weg sedert haar man se dood vyf maande gelede.

“Ek is ma van drie kinders en al sukkel ons met finansies, sal ek alles vir Shaun doen. Ek het nie geld vir brandstof vir die vervoer Bloemfontein toe en terug nie.
“Ek benodig ook geld vir verblyf sodat ek daar kan wees vir Shaun met die operasie. Ek moet vir my twee dogters ook sorg,” vertel Adri.
Sy noem dat sy baie dankbaar is vir die gemeenskap wat haar die afgelope vyf maande help.
“Mense help ons met kos en krag en ek waardeer almal.
“Sonder die Hemelse Vader is ons niks in die lewe nie. Ek en my familie waardeer alles opreg,” sê Adri.
Vir enige skenkings en hulp kan Adri by 071 785 1677 gekontak word.




