Kunstefees kweek liefde vir kunste by jongspan
Die idee rondom hierdie kunstefees het ontstaan toe laerskoolhoofde in Potchefstroom ingestem het dat kultuur ‘n hupstoot nodig het
Die eerste Kunstefees vir Kindwees het hierdie week vanaf 12-14 September by Laerskool Mooirivier op ‘n hoë noot begin en bewys hoeveel jong kultuurtalent daar in Potch is.
Enige skool kon kinders vanaf Graad RRR – 7 inskryf om aan hierdie kompetisie in Afrikaans of Engels deel te neem. Kategorieë sluit in poësie, danse en spreekkore. Daar is ook ‘n kleurvolle kunskompetisie waar deelnemers hulle kreatiwiteit ten volle benut het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die idee rondom hierdie kunstefees het ontstaan toe laerskoolhoofde in Potchefstroom ingestem het dat kultuur ‘n hupstoot nodig het en dat daar meer geleenthede vir kinders moet wees om hulle liefde vir kultuur te kan uitleef.

Hendra Greyling, skoolhoof van Rep en Roer Kleuterskool, en Hendri Labuschagne, onderwyser by Laerskool Mooirivier, het hierdie kunstefees beplan en georganiseer.
“Daar is vanjaar meer as 700 inskrywings wat wys dat daar groot belangstelling is. Die hart agter die kunstefees gaan nie oor die wenmotief nie, maar eerder om seker te maak dat belangstelling van ‘n jong ouderdom groei en dit pret is,” vertel Greyling.















