Dansskoene afgestof met afskop van Lenteweek vir bejaardes
Donderdag, 29 September is daar ‘n Amazing Race byeenkoms by Samuel Broadbent Aftreeoord en Vrydag, 30 September sal die week met ‘n pretloop en stalletjies by SAVF Huis Anna Viljoen afgesluit word
Daar is weer eens bewys dat ouderdom net ‘n nommer is tydens die eerste dag van vanjaar se Lenteweek vir Bejaardes wat vanaf 26-30 September gehou is.
Vyf aftreeoorde bied elke dag van die week ‘n spesiale aktiwiteit vir bejaardes aan waaraan almal kan deelneem. Die hoofdoel is om die aftreeoorde se fasiliteite ten toon te stel, ouer mense van verskeie aftreeoorde saam te laat kuier en ‘n jolige atmosfeer te skep.
Foto’s: Wouter Pienaar
SAVF Ons Hulde het die week op ‘n goeie noot afgeskop toe hulle ‘n 60’s Strictly Come Dancing-dag aangebied het.
Die ouer mense het behoorlik op die maat van verskeie treffers geskoffel en hulle beste voete voorgesit. Die glimlagte op hulle gesigte het getuig van die pret wat hulle ervaar het. Die wat in rolstoele is het ook ‘saamgedans’ met personeel wat hulle op die maat van die musiek rondgery het.
Volgens Stacey Fortuin, bestuurder van SAVF Ons Hulde, is hierdie week ‘n goeie geleentheid om die persepsie van aftreeoorde te verander.
“Hierdie week gee ‘n geleentheid vir verskeie mense om die fasiliteit te sien en lekker saam te kuier. Oue vriende kom weer bymekaar en so ‘n week gee ook hoop vir die ouer mense. Musiek laat baie ouer mense glimlag, so dit was definitief ‘n aktiwiteit wat die bejaardes se dag gemaak het,” noem sy.
Die week het Dinsdag by Groen Wilgers aftreeoord voortgegaan met ‘n karnaval piekniek by die Mooirivier. Woensdag was daar ook aanbiddingsliedere wat by Happy Hearts in Promosa plaasgevind het. Vandag, Donderdag, 29 September is daar ‘n Amazing Race byeenkoms by Samuel Broadbent Aftreeoord en Vrydag, 30 September sal die week met ‘n pretloop en stalletjies by SAVF Huis Anna Viljoen afgesluit word.
Die bestuurder van Samuel Broadbent Aftreeoord, Michael Sparks, is baie opgewonde oor die Amazing Race wat Donderdag plaasvind en volgens hom is dit ‘n geleentheid om die fasiliteit op ‘n prettige manier blootstelling te gee.
“Dit gee ouer mense kans om bymekaar te kom en vir ‘n paar ure ‘n aktiwiteit saam te kan geniet. Die hart van hierdie week is om bejaarde gemeenskappe bymekaar te bring en saam te werk tot voordeel van almal. Ons wil die persepsie van ‘ouetehuise’ verander,” meen hy.









